Premier Allen Winde tydens die bekendstelling van die Weskaapse veiligheidsplan in Saxonsea verlede jaarFoto: Murphy Roberts


Beloftes van meer as ’n jaar gelede deur die premier Alan Winde dat die provinsiale regering misdaad sal vasvat, blyk net ’n droom vir plaaslike inwoners te wees.

Atlantis, wat tans gebuk gaan onder bendegeweld en ander misdaad, word tans nie as ’n prioriteitsgebied erken nie.

Volgens Albert Fritz, die provinsiale minister van veiligheid se kantoor, is die topvyf-gebiede in die provinsie Hanover Park, Nyanga, Delft, Bishop Lavis en Khayelitsha.

“Dit is ’n skreiende skande dat slegs ses beamptes en twee voertuie Atlantis, Mamre, Pella, Melkbos en omliggende gebiede moet bedien,” meen Fiona Abrahams.

Dié ANC se proporsionele raadslid sê die eerste duisend beamptes van die provinsiale misdaadbekampingplan is reeds ontplooi en Atlantis het nie een van die beamptes gekry nie.

Die ontevredenheid kom nadat Winde op 15 Oktober 2019 die provinsiale misdaadbekampingsplan in die Saxonsea-gemeenskapsaal met meer as plaaslike 300 inwoners gedeel het.

As deel van dié plan sou R1 miljard tydens die eerste jaar bestee word om onder meer om 3 000 wetstoepassers oor drie jaar op te lei.

Altesaam 150 van dié beamptes sal ook as ondersoekbeamptes opgelei word om te help met die samestelling van dossiere en ondersoeke.

Abrahams het behoorlik gal gebraak oor Winde se “leë beloftes” aan inwoners dat misdaad hokgeslaan gaan word.

“Hoe kan hulle misdaad bekamp as die Stad die metropolisie uit die gebied onttrek het?” wil sy weet.

Volgens Fritz se kantoor sal nog vyf bykomende gebiede deur die Stad geïdentifiseer word waar die beamptes ontplooi sal word.

Die Stad Kaapstad het by navraag gesê 455 beamptes, 66 inspekteurs en 10 senior inspekteurs is in Delft, Hanover Park en Khayelitsha ontplooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article