Dié groep buurtwaglede sê hulle kry elke keer ’n ander verduideliking hoekom die geld net nie oorbetaal kan word nie, en hoop en vertrou dat alles nou uitgesorteer is.Foto: Murphy Roberts


Plaaslike buurtwaglede sê hulle is moedeloos oor ’n reeks leë beloftes van die Stad Kaapstad oor die uitbetaling van hul toelae.

“Totdat die geld in ons rekening is, kan ons nie glo dat die geld binnekort gaan kom nie,” meen die groep.

Volgens Stanley September, een van die oudste buurtwaglede, is hulle dankbaar vir die toelae wat aan hulle belowe is en dit het ook meer buurtwagte laat ontstaan aangesien buurtwagte vir baie jare vrywillig werk.

Die buurtwaglede meen dit raak egter nou ’n probleem, want beloftes van betaling is gedoen. Volgens September moes elke buurtwag ’n kontrak teken wat voorlopig tot in die middel van Desember strek.

Volgens die lede het hulle op 1 Julie begin, maar die ooreenkoms was dat hulle einde Augustus betaling sou kry. Sedertdien was dit slegs “een storie na die ander”. Volgens die groep het hulle Saterdag (18 September) tydens burgemeester Dan Plato se besoek aan Atlantis gaan hoor wat die probleem is aangesien die projek uit die burgemeester se kantoor bedryf word.

“Hulle sê beloftes is egter net weer gemaak dat alles die volgende Maandag uitgesorteer sou wees, maar daar het dadels van gekom,” verduidelik die groep. Jemayne Andrews, van Plato se kantoor, het in ’n verduideliking aan die lede gesê: “Alles is nou uitgesorteer en prosessering van die uitbetalings sal nou geskied.”

Andrews het in ’n stemboodskap verduidelik daar was uitdagings met die papierwerk van die lede. Hy het ook genoem vele mense wat die kontrak geteken het, het die Stad probeer mislei aangesien ’n paar by ander projekte van die Stad betrokke is en dus nie kwalifiseer nie, omdat dit ander van ’n inkomste weerhou.

Andrews sê voorts dit het die proses vertraag en hy het lede verseker dat die geld binnekort in hul rekening sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article