Lede van verskeie politieke partye ondersteun steeds die slagoffers. Foto: Murphy Roberts


’n Voormalige rugbyafrigter van Mamre, wat op vyf aanklagte van verkragting en die besit en vervaardiging van kinderpornografie teregstaan, het Dinsdag (9 Mei) weer in die hof verskyn.

Die verdagte, wat net vlugtig in die plaaslike streekhof verskyn het, se saak is tot 20 Julie uitgestel vir konsultasie met sy nuwe regshulpprokureur.

Die verdagte het reeds verskeie kere van prokureur verander, en dit blyk nou die uurglas is aan die leegloop nadat hy deur die hof gewaarsku is “om nie langer die hof se tyd te mors nie”.

Emosionele familielede van slagoffers het ook aangedui hulle is verlig om te hoor die hof het standpunt ingeneem oor die saak wat volgens hulle net nie rigting kan kry nie.

Die verhoor sou op 25 April begin het toe die landdros haar sterk uitgelaat het oor die verdagte se vertragingstaktiek tydens sy vorige verskynings.

Die verdagte, wat hom glo al as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen en vermoedelik só slagoffers geteiken het, is in Maart 2020 aangekeer nadat ’n 16-jarige slagoffer alarm gemaak het.

Die man is op 29 Julie verlede jaar weer aangekeer nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het.

Die verdagte bly steeds onder huisarres.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article