Ondersteuners van die slagoffers is steeds hoopvol dat die verdagte sal boet vir sy dade en ondersteun steeds die slagoffers. Foto: Murphy Roberts


Dit kan nie langer geduld word nie, het die landdros, wat Dinsdag 7 November die saak van ’n voormalige rugbyafrigter aangehoor het, gal gebraak.

Die landdros het die verdagte hard aangespreek en gesê dit is tyd dat hy verantwoordelikheid moet aanvaar en sy onskuld moet probeer bewys omdat die saak reeds so lank sloer.

Die verdagte, wat aandagtig na die geroskam geluister het, het aan die landdros gesê hy is gereed en die skuld vir die vertraging met die saak op sy prokureurs gepak.

Die verdagte, wat hom as ’n dokter, fotograaf, model-agent, fiksheidsinstrukteur en selfs lesbiese vrou op sosiale media voorgedoen het, is in Maart 2020 aangekeer toe ’n 16-jarige slagoffer alarm gemaak het.

Die verdagte het vroeër aangevoer daar is geen bewyse van sy dade nie en dit is net hoorsê-getuienis.

Die staat het egter aangevoer dit is nie die geval nie met die verdagte se verskyning op 2 Desember verlede jaar. Die hofsaak was toe reeds telkemale uitgestel. Die verdagte is op 29 Julie verlede jaar weer aangekeer op ’n addisionele klagte nadat nog ’n klaer ’n klagte van verkragting teen hom aangemeld het.

Die landdros wou vandeesmaand ook by die verdagte weet hoekom hy reeds vyf prokureurs gehad het, waarop hy net die prokureurs blameer het.

Die verdagte, wat tans ’n Judi care-prokureur het, is aangesê sy verhoor begin op 22 Februarie en die voorverhoor op 26 Januarie.

Die landdros het ook die regshulp geroskam oor hul traak-my-nie-agtige houding omdat die saak baie belangstelling in die media en gemeenskap geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article