’n Verdagte staar drie aanklagte van strafbare manslag en een van dronkbestuur in die gesig nadat ’n gesin Sondag (28 Maart) in ’n motorbotsing uitgewis is.
Dean de Vos (14), ’n leerder van die Laerskool Swartland in Malmesbury, se asemhalingsmasjiene is verlede Dinsdag afgeskakel nadat hy saam met sy pa, Marius, en stiefma, Marinda, in die botsing buite Atlantis was.
Dean en sy gesin was van hul eendeplaas naby Atlantis in die rigting van Malmesbury op pad om hom by die koshuis te gaan aflaai toe hulle teen die verdagte – blykbaar van Malmesbury – gebots het. Beide volwassenes is op slag dood.
Die tiener het verskeie operasies ondergaan om sy lewe te probeer red, maar is verlede Dinsdag omstreeks 10:00 breindood verklaar, het Netwerk24 berig.
Volgens Kapt. Lisa Munro,’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, het die 32-jarige verdagte Woensdag 31 Maart die eerste keer in die hof verskyn.
Die vier aanklagte word in hierdie stadium steeds ondersoek. Hy sal na verwagting vandeesmaand in die plaaslike hof verskyn.
’n Gedenkdiens vir Marius en Marinda is by die El Lions-venue naby Atlantis gehou.


