’n Voormalige wetstoepasser het byna by die dood omgedraai, en dit het die keerpunt in sy lewe geword.
Vyri Seherie (53) verduidelik dat hy byna twee maande in die hospitaal was weens verskillende kwale.
“Dit het my laat besef om die Bybel op ’n ander manier te bestudeer,” vertel hy. “Ek het besluit om die teologiese wetenskaplike en nitologiese ondersoek na die eerste 12 hoofstukke van die Bybel – Genesis 1 tot 12 – te doen,” vertel hy.
“Ek het besluit om my navorsing in ’n boek om te skep, wat sterk klem lê op die skepping en ontstaan van die mens en die verspreiding van die mens.
“Ek het meer as twee jaar gelede begin met Die konsep van God vanaf die skepping tot ná die vloed van Noag en vandag is ons hier om die sukses daarvan te aanskou,” het hy aan gaste gesê.
Volgens Seherie het hy die boek aan sy ma, Mietha Roman, en oorlede pa, Simon Seherie, wat ’n groot rol in sy lewe vervul het, opgedra. Mense wat graag meer oor die boek wil weet of dit wil bestel kan hom by 083 279 0876 bel.





