’n Hacker van Atlantis het inwoners van Uitbreiding-12 paniekerig en moerig gemaak omdat die polisie aanvanklik nie na inwoners se klagtes wou luister nie.
Inwoners het na ’n huis opgeruk waar die vermeende kuberkraker woon. Volgens ’n erg omgekrapte Tracey Smith (25) moes sy op Facebook sien haar kinders is “oorlede”.
“Dit is regtig ’n siek besigheid en veroorsaak paniek onder inwoners in die straat,” vertel Tracey. “Ek moet elke dag in vrees gaan werk omdat die hacker gereeld dreig dat my kinders doodgemaak sal word.”
Dit volg nadat sy gesien het een van haar drie Facebook-rekeninge is deur iemand wat voorgee om sy te wees, oorgeneem. “Ek ken die mense wat in die inskrywings getag word, maar ons is nie vriende nie. Ek moes ook gereeld beledigings van mense verduur nadat hulle in my Facebook-inskrywings sleggemaak is.”
Die inskrywings is kras en vol innuendo van mense se sogenaamde “slegte gedrag”.
Volgens Eva Sass is sy ook in ’n inskrywing op Facebook getag. Die inskrywing lui: “Hulle het gesê Eva moet nie van die appels eet nie, maar sy eet almal se manne.” Sass sê sy weet nie hoekom die kuberkraker sulke dinge oor haar kwytraak wanneer sy “net in die huis sit” nie.
Inwoners is woedend omdat die vermeende kuberkraker glo ook weet wat in die bure se huise aangaan. Inwoners kry glo gereeld boodskappe van die kuberkraker wat vra “hoekom skel jy met die kinders?”
Die groep inwoners wil hê die polisie moet die eienaar van ’n nabye internetkafee ondersoek.
Volgens Moegamat Isaacs en sy vrou, wat ook slagoffers van die vermeende skim is, moet die kuberkraker gestop word. “Alles het begin met foto’s wat hy soek en dan geld van slagoffers eis of sê die foto’s sal aan hul eggenotes gestuur word. Ek weet nie of iemand naakfoto’s gestuur het nie, maar die hacker dreig dat hy naakfoto’s van inwoners het. Hulle moet geld vir sy stilswye gee. Ons kan nie langer so lewe nie,” meen Isaacs. Hy sê die vermeende kuberkraker se rekenaars en selfone moet ondersoek word.
Inwoners is te bang om te gaan werk omdat hulle gereeld dreigemente kry dat hul kinders “opgesny” gaan word, vertel Isaacs.
Sedert inwoners meer as ’n week gelede met Weskus Nuus gepraat het, gaan die dreigboodskappe voort.
Kapt Liza Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig amptelike klagtes is intussen na die polisie se kubereenheid oorgeplaas.




