Inwoners en verskeie politieke partye het Dinsdag 5 Oktober na die plaaslike munisipale kantoor opgeruk nadat inwoners se water afgesny was.Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Atlantis was die afgelope twee weke behoorlik die hoenders in nadat die Kaapstadse Stadsraad glo inwoners se watertoevoer “afgesny” het.

Inwoners moes vinnig reëlings tref om agterstallige rekenings te betaal en baie oumense moes geld daarvoor leen. Inwoners het behoorlik gal gebraak omdat amptenare by die plaaslike kantoor nie mense wou sien wat nie ’n deposito vir hul reëling het nie.

Verskillende organisasies en politieke partye het egter besluit genoeg is genoeg en het Dinsdag (5 Oktober) na die munisipale kantoor opgeruk en ’n memorandum aan die subraad 1-bestuurder Wessie van der Westhuizen oorhandig.

Die Atlantis Youth Congress en NAMA Royal House het die optog gereël. Volgens die memorandum eis die organisasies ’n moratorium moet onmiddellik op die staking van watertoevoer geplaas word en die Stad moet met die organisasies vergader om die pad vorentoe te bespreek. Hulle glo ook ’n moratorium moet op die watermeter-bestuurstelsel geplaas word. “Water moet onmiddellik aangesluit word,” eis hulle.

Die groep meen alle betalings op agterstallige waterrekeninge moet vir eers gestaak word sodat die proses hersien kan word.

Van der Westhuizen het aan optoggangers gesê hy is ongelukkig nie die besluitnemer nie, maar het belowe dat die memorandum by die regte mense sal uitkom en dat terugvoer gegee sal word. Inwoners sê hulle kan nie glo dat amptenare van die Stad so ongevoelig teenoor arm mense kan wees nie aangesien water ’n basiese reg is. Organiseerders het ook uitgevaar teenoor die “ongevoelige optrede” en het gevra die optrede van amptenare moet ondersoek word.

Inwoners het aan Weskus Nuus verduidelik agterstallige dienste en waterrekeninge word van hul elektrisiteitaankope afgetrek en hulle verstaan nie hoekom hul watertoevoer afgesny is nie.

Volgens Ian Neilson, burgemeesters-komiteelid vir finansies, is water nooit gesny nie, maar op ’n drupstelsel geplaas. Neilson sê kennisgewings is uitgereik om inwoners wat agterstallig is, aan te moedig om die Stad te nader vir hulp soos die wet vereis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article