Inwoners in Atlantis en die groter Kaapse Metro is woedend en ontsteld oor die Stad Kaapstad se verhoging in elektrisiteit en meen dit is onwettig.
Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het ’n prysverhoging van 15,1% goedgekeur maar die Stad het ’n 17,6% verhoging ingespan.
Politieke partye, inwoners en burgerregte-organisasies het klagtes by die reguleerder aangemeld omdat hulle glo dié verhoging in tariewe is onwettig. Twee organisasies wat die hardste praat, Stop City of Cape Town en Electricity Prices Must Fall, sê hulle sal nie die ontevredenheid met die tariewe laat vaar nie. Volgens Natasha Greste, van Electricity Prices Must Fall, is hulle reeds besig met ’n petisie teen die Stad se verhoging.
Gretse sê die organisasie het aansoek gedoen om vreedsaam te betoog teen die Stad se verhoging.
“Dis ’n skreiende skande dat mense nou R3,51 per eenheid betaal wat beteken dat jy nou slegs twee eenhede kry indien jy R10 se krag koop,” sê sy.
Volgens Sandra Dickson van Stop City of Cape Town pas die Stad diskriminasie toe in die wyse waarop hulle elektrisiteitstariewe bepaal. Sy sê eiendomswaarde bepaal die waarde per krag-eenheid en sê baie inwoners het nie beheer daaroor nie. Volgens Dickson het meer as 10 000 huishoudings reeds hul gratis elektrisiteit sonder waarskuwing verloor.
Sy sê voorts Nersa het hul klagtes aanvaar en sy bedank inwoners en ander organisasies wat ook klagtes ingedien het. Sy sê Nersa moet nou doen wat hul mandaat is en die reguleerder vra om streng op te tree teen owerhede wat “armes wil uitbuit”.
Charles Hlebela, woordvoerder van Nersa, vertel vele klagtes is ontvang oor die tariefverhoging van die Stad Kaapstad. Hy sê die dispuutoplossings- span is tans besig om hierdie kwessies aan te spreek. Die ondersoek- en oplossingsproses sal etlike maande duur om ’n deeglike ondersoek te verseker, sê hy. Volgens Hlebela het Nersa verskeie klagtes ontvang wat vra dat die stad se onlangse verhoging van 17,6% afgekeur word, wat die goedgekeurde tariefverhoging van 15,1% vir alle munisipaliteite oorskry.
Nersa het onlangs ’n soortgelyke beslissing geneem deur die eThekwini-munisipaliteit se tariefverhoging van 18,49% af te keur en die handhawing van die goedgekeurde tariefverhoging te vereis. Greste en Dickson moedig steeds inwoners aan om hul klagtes aan die Stad te stuur en indien hul geen terugvoering kry nie, dit direk aan Nersa te stuur. (Meer op bl. 4)


