Lizel Solomons het haar ouers, broer en susterskind verloor toe hul woning onverklaarbaar op 4 Junie gebrand het.
Ná talle leë beloftes deur veral politici, het Solomons besluit om ’n geldinsameling te hou om die huis op te knap.
Verskeie kunstenaars van Atlantis het verlede Sondag (17 Oktober) hande gevat om die “Jazz on the Grass”-konsert aan te bied, wat gehelp het om geld in te samel vir opknapping van die Green-gesin van Proteapark se huis.
Solomons sê sy kan Ricardo Petlo en Sherwin Parker van RDP Entertainment nooit genoeg bedank nie. Dié twee het nog 13 kunstenaars genooi om te help met die inisiatief, en al die kunstenaars het gratis opgetree.
Volgens Dean Goliath, bestuurder van Radio Atlantis, wat ook die seremoniemeester van die konsert was, is R1 000 namens die radiostasie belowe en hy het ander uitgedaag om dit te ewenaar of te verbeter. Solomons sê die dag het R22 000 opgelewer, wat baie sal help om die dak, elektrisiteitstoevoer en plafonne in die huis te vervang.
Solomons voeg by hulle is reeds aan die gang met die herstelwerk aan die huis en hoop om voor Kersfees klaar te wees. Sy het almal bedank wat opgetree en die konsert ondersteun het en dit moontlik gemaak het om die huis betyds klaar te kry.





