Die ondersoek deur die Landdros-kommissie na ’n senior regsamptenaar by die Atlantis-hof het uiteindelik begin nadat vier seksuele aanklagte by die Malmesbury-hof teen hom aangemeld is.
Volgens ’n dokument in Weskus Nuus se besit het die regsamptenaar skriftelik op die bewerings teen hom aan die Wes-Kaapse hooflanddros reageer en dit afgemaak as ’n sameswering teen hom.
Volgens die dokument, waarin die man alles ontken, word beweer hy het geld aan ’n vroulike veiligheidswag gebied in ruil vir seksuele gunsies. Ander klaers beweer ook die man het gereeld uitspattige uitlatings oor hul kleredrag gemaak, wat hulle ongemaklik laat voel het.
Volgens Janine Passenz van die Survivors Haven-stigting is die man, wat in ’n waarnemende rol aangestel is, hier geplaas nadat die aanklagte oor seksuele misdrywe by die Malmesbury-hof teen hom aangemeld is.
“Atlantis het ’n lang geskiedenis van seksuele misdade, en dit is ’n duidelike teken dat amptenare niks van die gemeenskap dink nie,” meen Passenz.
Inwoners het verlede jaar in ’n betoging geëis dat dié man uit die pos verwyder moet word. Volgens die klaers het hulle verklarings aan ’n landdros gegee wat die bewerings namens die kommissie teen die regsamptenaar ondersoek.. In ’n afsonderlike geval probeer die staat om die meer as R600 000 wat vermoedelik by Atlantis-hof gesteel is terug te kry. Weskus Nuus het vertroulik verneem die departement van justisie het reeds met die proses begin dat die verdagte, Olivia Adonis, die geld moet terugbetaal. Adonis, ’n voormalige werknemer by die Atlantis-hof, het die geld na bewering tussen Julie 2018 en Maart 2019 gegaps en verskyn tans in die hof op aanklagte van bedrog en diefstal in Malmesbury.
Die saak, wat al byna drie jaar duur, is al 22 keer uitgestel, wat “glad nie in belang van geregtigheid is nie”, het die departement gesê. Weskus Nuus wou by Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, weet hoekom die staat nooit beswaar teen die baie uitstellings van die saak gemaak het nie. Die NVG het teen druktyd nog nie op navrae reageer nie.




