Terwyl inwoners voorberei vir ’n nat winter en reeds van tyd tot tyd moet skuil vir die reën, reën dit egter nou koeëls in Atlantis.

Twee tieners het onlangs in ’n koeëlreën in Saxon Sea gesterf en sedertdien moet inwoners koes.

Volgens kol. Cyril Nkuna, plaaslike stasiebevelvoerder, is reeds 12 skietvoorvalle sedert die dubbele moord aangemeld midde talle gevalle wat nié aangemeld is nie, sê hy. Volgens Nkuna is verskeie verdagtes reeds aangekeer en die polisie het op vuurwapens beslag gelê. Geen noodlottige voorvalle is aangemeld nie, het hy bevestig.

Die gebiede wat die ergste in die skietvoorvalle geraak word, is Saxon Sea en Sherwoodpark, en dit kan nog voortduur, het die stasiebevelvoerder erken.

Volgens polisie-inligting wat uitgelek het, word verskillende wraakaanvalle beplan en verskeie name word ook in die inligting genoem van wie dalk verantwoordelik is vir die wraakaanvalle wat beplan word.

Volgens ’n betroubare bron is dit nou bendes se “besige tyd” met skiet-“orgies” wat elke jaar dié tyd begin. Die bron het aan Weskus Nuus verklap die skietery gaan nog ’n ruk duur.

Die Stad Kaapstad het onlangs sy “Gunshot detection”-tegnologie op die Kaapse vlakte bekendgestel in ’n poging om bendegeweld hok te slaan. Volgens die Metro-polisie-woordvoerder Ruth Solomons was Atlantis nie onder die topgebiede waar vuurwapenverwante misdade plaasvind toe die program bekend gestel is nie. Volgens JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het die nasionale polisiekommissaris sy ondersteuning aan die projek beloof en hy hoop dit kan binnekort na nog ander plekke uitgerol word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article