Amptenare van Sassa verduidelik die aansoekproses aan ’n groep ongelukkiges. Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Atlantis is steeds moerig oor die manier waarop Sassa aansoeke vir toelaes hanteer.

Volgens Leticia Kondowe stap sy reeds sedert Januarie elke dag na die Sassa-kantoor om aansoek te doen vir haar tydelike ongeskiktheids­toelae wat in Desember gestaak is. “Hulle sê net elke dag Sassa gaan my bel, maar ek het vir die byna vier maande nog nie een oproep ontvang nie,” vertel sy.

Volgens Ester Daniëls, wat ook gereeld na dié kantoor gaan om te hoor hoe haar aansoek vorder, word sy net aangesê Sassa sal haar bel.

“Ek het reeds in Januarie al ’n datum vir 9 Maart gekry, maar niks het nog gebeur nie,” vertel sy. “Ons hoor elke dag ’n ander storie terwyl die kleintjies honger by die huis bly aangesien ons sedert Januarie probeer om ons geld te kry,” vertel hulle.

Amptenare van Sassa het aan die groep ongelukkiges verduidelik hoe die proses werk, maar inwoners sê hulle is keelvol vir amptenare se flou verskonings en traak-my-nie-agtige houding teenoor die gemeenskap.

Die mense besef duidelik nie die erns van ons probleem nie,” het die groep aan Weskus Nuus gesê.

Volgens Shivani Wahab, direkteur van bemarking en kommunikasie by Sassa, is tydelike ongeskiktheidstoelae in Desember 2020 deur die regering gestaak nadat dit verskeie kere tydens die inperking verleng is. Wahab sê dit het ’n groot toestroming en dringende vraag na dienste by alle Sassa-kantore veroorsaak. Sy sê Sassa het ’n strategiese 10-punt-diensleweringsplan ontwikkel, wat sal verseker dat elke kliënt wat toegang tot die kantoor verkry, ’n afspraak met ’n gekontrakteerde dokter vir ’n mediese ondersoek ontvang.

“Die kliënt sal ook ’n datum ontvang om ná die mediese evaluering na die Sassa-kantoor terug te keer om die finale gedeelte van die aansoek te voltooi.”

Sy sê aansoekers sal daarna in kennis gestel word of hul aansoek vir die toelae suksesvol was of nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article