Leerders by Robinvale eis dat ’n leerder wat die K-woord geuiter het, permanent geskors word. Foto: Murphy Roberts


Leerders by Robinvale Sekondêr sê ’n rassistiese leerder moet waai nadat die K-woord na bewering geuiter is. Dié voorval, wat glo al op 2 Augustus plaasgevind het, het nou kookpunt bereik en leerders weier om klasse by te woon.

Volgens Vaughan Murray, die hoof, is die leerder ná ’n ondersoek geskors, maar hy erken hy het die slagoffers en hul ouers gefaal. Murray het in ’n brief aan ouers geskryf: “Ek het nie die situasie reg hanteer nie deur nie aan die slagoffers te dink nie.” Volgens die hoof sal aandag daadwerklik gegee moet word aan hoe die personeel met leerders kommunikeer en dat leerders gemaklik moet voel om oor sulke kwessies te praat en dit aan te meld.

Volgens Murray het leerders Donderdag 18 Augustus met die terugkeer van die leerder besluit hulle soek nie dié leerder op die skoolterrein nie en uit hul klasse gestap. “Ons het met die ouers gepraat en besluit die leerder moet die skool om verskoning vra.”

Leerders het egter tydens die byeenkoms Woensdag 24 Augustus, waar die betrokke leerder om verskoning moes vra, uit die saal gestap en geweier om klasse by te woon. Die leerders sê hulle voel die skuldige leerder moet van die skoolterrein verwyder word, maar dit is nie so eenvoudig nie, het Murray gesê.

Volgens hom het die tugkomitee (beheerraad) ook alles in sy vermoë gedoen om leerders te oortuig dat die skuldige leerder diepe berou getoon het, maar ’n klein groepie weier om dit te aanvaar en eis dat sy permanent geskors moet word.

’n Lid van die beheerraad, wat verkies om nie by name genoem te word nie, sê die leerder het berou en is self deur die voorval getraumatiseer, maar “ons moet ook aan haar toekoms en veiligheid dink”.

“Dit is hoekom sy eers geskors is totdat ’n oplossing gevind kan word.” Hy sê “ons het gedink om haar na ’n ander skool te stuur”, maar voeg by “dit kan dinge egter vererger”.

Die skool het ’n ouervergadering vir Donderdag 25 Augustus belê om die situasie te bespreek, en Murray sê hy kan ook nie toelaat dat ’n klein groep leerders die skool ontwrig nie. Ouers het tydens die vergadering besluit die leerder se verskoning was voldoende en klasse moet voortgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article