Sy het die stryd verloor en is nou veilig met maar mammie verenig, vertel ’n emosionele Lizel Solomons. Gracelyn Green (2) of Gracey soos sy in volksmond bekend gestaan het, is Saterdag 16 September begrawe nadat sy die vorige week haar stryd teen kanker verloor het.
Gracey, wat in haar kort tydjie op aarde meer pyn as baie ervaar het, het ook ’n baken van hoop vir duisende geword.
Volgens Lizel, wat na Gracey omgesien het, is die huis leeg en die verlange na hul klein vegtertjie groot, vertel sy, terwyl sy die trane probeer verberg. “Sy was eenvoudig net haarself – of sy pyn gehad het of nie – en het graag ander met haar staaltjies vermaak. Sy is en was nog altyd ’n ikoon vir my en ek sal haar ewig dankbaar wees vir wat sy aan my gegee het. Ek kon my ouers se begrafnis maklik reël, maar met Gracey was dit net iets anders,” vertel sy. Volgens Lizel het Gracey, wat meer tyd in die hospitaal as by die huis deurgebring het, Saterdag 9 September in haar arms gesterf.
Die dapper vegtertjie het op ses maande eers haar ma, ouma, oupa en oom op 4 Junie 2021 verloor toe ’n brand byna hul hele huis verwoes het. Shanique Green (toe 20), klein Gracey se ma, het as ’n held gesterf toe sy eers haar kind deur ’n venster aan ’n oom gegee het. Sy wou haar ouma en bedlêende oupa gaan red toe digte rook haar oorval het en sy later naby die badkamer gevind is.
Volgens Solomons, Gracey se tante, wat sedert die tragedie na klein Gracey omsien, het die klein vegtertjie se lewe drie maande ná die voorval nog ’n terugslag gehad toe jeugdige miëlomonositiese leukemie in Augustus 2021 by haar gediagnoseer is. Volgens Lizel kon net ’n stamseloorplanting haar lewe red en verskeie projekte is van stapel gestuur om ’n geskikte skenker te vind. Die stamseloorplanting is byna ’n jaar later – op 28 Julie – gedoen, maar nie lank daarna nie het sy infeksie opgedoen, wat na verskeie organe in haar liggaam versprei het, sê sy. “Ek het in die twee jaar ná die diagnose baie van my tyd saam met Gracey in die onkologie-eenheid van die Rooikruis-kinderhospitaal deurgebring waar Gracey met talle chemoterapiemiddels behandel is om die verspreiding van die kankerselle te vertraag,” vertel sy emosioneel. “Ek het vrede in my hart dat sy veilig by haar mammie is en dat sy niks meer pyn het nie.”
Volgens Lizel was Gracey ’n pragtige geskenk van God en “daarom was sy nooit ons s’n om te hou nie en sy is die sterkste mens wat ek ken; ek kan haar net bewonder daarvoor”.
Gracey, wat volgende maand drie jaar oud sou word, “was ’n absolute vreugde om haar in ons lewe te hê”, vertel sy.
“Die laaste ruk was sy op pynmedikasie, maar in haar laaste oomblikke het dit nie gelyk of sy enige pyn het nie. Ons is dankbaar vir die tyd wat ons saam met haar gehad het en selfs die laaste paar weke van haar lewe was dit ’n seën om ’n geleentheid te kry om totsiens te sê. Ons as familie is seer, en bedank almal vir hul ondersteuning.”





