“Julle kan maar sake gaan maak; daar kom tog f…l van!”
Só is twee jong manne toegesnou terwyl hulle met ’n kinder-“scooter” geslaan is – blykbaar deur ’n polisieman wat nié aan diens was nie en glo sterk na drank geruik het.
Volgens Tyrique Norman (18) het hy en ’n maat, Chriswin Jamaar (17), van Neptune Castle, na ’n fliek op hul foon gekyk.
Die twee vertel: “Ons het gesit toe die polisieman, wat aan ons bekend is, vra hoekom laat ons sy seun dagga rook. “Ons wou nog verduidelik dat ons van niks weet nie, toe begin hy slaan,” vertel hulle. Volgens die twee, wat erken dat hulle van tyd tot tyd ’n “trek van die aaptwak” vat, het die polisieman sterk na drank geruik toe hy ’n kinder-skopfiets gegryp en hulle begin slaan het.
“Ons het die seun, wat gestaan en kyk het, gevra om eerlik met sy pa te wees en te sê waar hy dagga gerook het, aangesien hy reeds dik gerook by ons aangekom het, maar hy het geweier om iets te sê,” vertel die twee.
Volgens Irene Jagers, ’n familielid van die twee, het sy die slag gehoor en uitgegaan om te kyk wat aangaan en gesien die polisieman slaan die twee jong manne. “Ek het hom gevra wat aangaan, maar hy het my iets viesliks oor my ma toegesnou.” Jagers sê ook die polisieman het sterk na drank geruik en gedreig dit is nie sy laaste besoek aan hulle nie en gesê dit gaan baie gereeld gebeur as hulle nie sy seun uitlos nie.
Hulle het vertel die polisieman se seun het hulle kom opsoek om dagga te rook. “Die pa wil nie erken sy kind doen verkeerde dinge nie en wil ons blameer vir sy kind se dade.” Volgens Jagers het sy die slagoffers hospitaal toe en na die polisie geneem. Volgens Kapt. Lisa Munro. ’n polisie-woordvoerder, word ’n klagte van aanranding ondersoek.


