Minderbevoorregte kinders sien selde ikoniese besienswaardighede soos Tafelberg, die Kirstenbosch- Nasionale Botaniese Tuine of Robbeneiland, wat nog te sê van die opwinding om dit uit die lug te ervaar.
VST Prokureurs, die Morningstar-vliegklub en die Rotariërklub van Melkbos het onlangs kragte saamgesnoer om ’n unieke geleentheid aan kinders van die Hoërskool Livingstone, die CHOC-kinderkankerstigting en die Laerskool Vaatjie Mor te bied om die vreugde van ’n vlug te ervaar.
Die organisasies het die kinders by die Morningstar-vliegveld verwelkom en hulle kans gegee om te gaan vlieg.
Dit was ’n onvergeetlike ervaring vir die laerskoolkinders en van die leerders van Wolwerivier was verstom om te ontdek hoe naby hulle aan hierdie lugvaartspilpunt woon – geskei deur Bloekomboomlaan en die N7-hoofweg.
Twee graad 7-leerders van die Laerskool Vaatjie Mor, Lizane Davids en Dori-Ann Fienies, het hul ervaring om Tafelberg en Robbeneiland van bo af te sien, beskryf. Hulle het dit vergelyk met ’n arend wat sy prooi uit die lug bekyk; ’n werklik fassinerende perspektief.
CHOC het kinders uit verskeie gebiede gebring, insluitend Delft, Goodwood, Kraaifontein, Stellenbosch, Khayelitsha, die Koue Bokkeveld (Ceres), Vredenburg, Springbok in die Noord-Kaap, asook Oos-Londen in die Oos-Kaap.
Lynette Muthuray, streekbestuurder van die Wes-Kaap en Namakwa-streek van die CHOC-kinderkankerstigting SA, het gesê die ervaring was fantasties vir die organisasie en transformerend vir die kinders, van wie baie nog nooit in ’n vliegtuig was nie.
Die Morningstar-vliegklub, ’n gemeenskap van lugvaartentoesiaste met ’n ryk 27-jarige geskiedenis, pronk nou met sowat 500 lede en het aangepas om nuwe ontwikkelings in lugvaart te akkommodeer en is daartoe verbind om ontspannings- en sportvlieg in Kaapstad te bevorder.
Timothy Irvine het namens die klub gesê enigiemand met ’n passie vir lugvaart en ’n begeerte om te leer vlieg is welkom om by hulle aan te sluit.
Die klub se uitgebreide fasiliteite, met meer as 90 store wat meer as 200 vliegtuie kan huisves, ’n SACAA-geakkrediteerde vliegskool en ’n vliegtuiginstandhoudingstak, verseker veiligheid en lugwaardigheid.
Die dag is afgesluit met opwindende vliegervarings en ’n ete danksy die Rotariërs. Die kinders is ook verras met hul eie lugvaart-sertifikate wat die klub oorhandig het.


