Kinders is ouers se kosbaarste geskenk en die oortuiging dat daar geen ouer is wat nie die beste vir sy kind wil hê nie, word beaam deur ’n bende-ondersoeker, ’n expert in bendes se denkwyse en gewelddadige optrede.

Hy het meegedeel dat kinders van jongs af van bendebedrywighede en die nadele van bendebetrokkenheid geleer moet word.

Geen ouer wens dit vir sy kind om ook in bende-bedrywighede en geweld betrokke te raak nie.

Kleuters en voorskoolse kinders van verskeie dagsorgsentrums in Atlantis is in Desember deur die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum by die polisiestasie oor bendegeweld ingelig.

In hierdie sosiale leerproses is die mate van aandag wat die kleuters en voorskoolse kinders skenk, sowel as die stimulasie van hul sintuie wanneer hulle nuwe inligting in die omgewing hoor of sien, uiters belangrik. Dit beïnvloed presies hoe hulle nuwe inligting oor bendegeweld gaan onthou.

Deur die voorstelling van wat kinders moet doen as bendes begin skiet, kon kinders reeds leer deur slegs die gedrag van ’n sosiale rolmodel waar te neem – sonder dat hul al ooit die gedrag toegepas het – of positief aangemoedig is nadat hulle die gedrag toegepas het.

Deur waarnemende leer verkry die kind sosiale vaardighede en ’n beter begrip van roetines, aksies en toepaslike optrede wat hulle moet volg.

Weens individuele verskille gaan elke kind op hul eie besluit hoe gewillig hulle is om die nuwe gedrag wat hulle aangeleer het, na te boots vir hul eie veiligheid.

Kleuters is meer geneig om motoriese handelinge, soos selfversorgende take, na te boots, terwyl ouer kinders ’n meer daadwerklike poging aanwend om die vaardigheid aan te leer en nie net na te boots nie, maar ook te begryp wat hulle waargeneem het en dit oor te dra.

Sou die kinders hul kennis en vaardighede met ander deel sal daar meer kinders wees wat weet hoe om hulself teen bendegeweld te beskerm en sodoende is dit dan die oorwegende denkrigting.

Kinders tussen die ouderdom van 4 en 12 jaar, raak toenemend bewus van die ooreenkoms tussen hul eie denke en daardie van ander kinders en volwassenes.

Hierdie ouderdomsgroep sluit dus die kleuters en voorskoolse kinders in. Weens die universele behoefte aan aanvaarding, gaan kinders konformeer tot die oorwegende denkrigting om in te pas en sosiaal aanvaarbaar te bly.

’n Psigiater in Kaapstad het die uniekheid van die brein opgesom as “the brain is a whole universe on its own” en vanweë hierdie kompleksiteit is die breinprosesse voortdurend besig om dit wat ons ken en wat ons in die verlede bemeester het, aan te pas by dit wat vir ons nuut is.

Kinders leer van ’n verskeidenheid sosiale rolmodelle en moet beskerm word teen kontak met kinders en volwassenes wat negatiewe rolmodelle is, by wie hulle kriminele dade en bendemaniere kan aanleer en ingetrek kan word by bendes.

  • Janel van Vliet is ’n geregistreerde sielkundige

.Die menings in hierdie rubriek is nie noodwendig die van Weskus Nuus of Media24 nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article