Sy het die stryd verloor en is nou veilig met maar Mammie verenig.
Gracelyn Green (2) oftewel Gracey soos sy in volksmond bekend gestaan het, is Saterdag 16 September begrawe nadat sy die vorige week die stryd teen kanker verloor het.
Gracey, van Atlantis, wat in haar kort tydjie op aarde meer pyn as baie ervaar het, het ook ’n baken van hoop vir duisende geword. Die klein dapper vegtertjie het op ses maande haar ma, ouma, oupa en oom verloor toe die familiehuis in ’n brand verwoes is op 4 Junie 2021. Shanique Green (20) ma van Gracey het as ’n held gesterf toe sy eers haar dogtertjie deur ’n venster aan ’n oom aangegee het. Shanique is terug in die vlamme om haar ouma en bedlêende oupa te gaan red toe digte rook haar oorval het en sy later naby die badkamer gevind is.
Volgens Lizel Solomons, Gracey se tante wat toe haar voog geword het, het die klein vegtertjie se lewe drie maande na die voorval nog ’n terugslag gehad toe sy in Augustus 2021 met jeugdige miëlomonositiese leukemie gediagnoseer is.
Slegs ’n stamseloorplanting kon Gracey se lewe red en daarna was verskeie projekte van stapel gestuur om ’n geskikte donateur te vind. Byna ’n jaar later op 28 Julie 2022 is die stamseloorplanting gedoen, maar nie lank daarna het sy infeksie opgedoen, wat na verskeie organe in haar liggaam versprei het vertel Solomons. “In die twee jaar ná die diagnose het ek baie van my tyd saam met Gracey in die onkologie-eenheid van die Rooi Kruis-kinderhospitaal spandeer en is Gracey met verskeie chemoterapiemiddels behandel om die verspreiding van die kankerselle te vertraag,” vertel sy emosioneel.
“Ek het vrede in my hart dat sy veilig by haar mammie is en dat sy niks meer pyn het nie.”
Volgens Solomons was Gracey ’n pragtige geskenk van God “en daarom was sy nooit ons s’n om te hou nie en is die sterkste mens wat ek ken. Ek kan haar net bewonder vir dit”.
Gracey, wat volgende maand drie jaar oud sou word. Solomons vertel dit was ’n vreugde om haar in hul lewe te hê. “Die laaste ruk was sy op pynmedikasie, maar in haar laaste oomblikke het dit nie gelyk of sy in enige pyn is nie. Ons is dankbaar vir die tyd wat ons saam met haar gehad het en selfs die laaste paar weke van haar lewe was dit ’n seën om ’n geleentheid te kry om tot siens te sê.
“Sy is en was nog altyd ’n ikoon vir my en ek sal haar ewig dankbaar wees vir wat sy aan my gegee het. My ouers se begrafnis kon ek maklik re?l, maar met Gracey was dit net iets anders. Ons as familie is seer, en bedank almal vir die ondersteuning die laaste tyd,” sê Solomons.


