Dié kragboks is oopgebreek en kabels is verwyder, wat inwoners in donkerte gelaat het.Foto’s: Allister Lightburn


“Asof Eskom ons nie genoeg in die donker laat nie, is kabeldiefstal ’n groter probleem as wat mense dink.”

Só meen Nicky Rheeder, die subraad 1-voorsitter, tydens die maandelikse subraadvergadering wat Donderdag (21 April) gehou is.

Rheeder sê Atlantis was nie net in die donker weens beurtkrag nie, maar ook weens die beskadiging en diefstal van die Stad se infrastruktuur, wat miljoene beloop. Volgens Rheeder is ’n hele kragboks uitgeruk en gesteel.

Atlantis is een van die Stad se hotspots met straatligte en kragbokse van die infrastruktuur wat die meeste beskadig word, het sy gesê.

Allister Lightburn, ’n wyksraadslid, het ook sy teleurstelling oor die vandalisme uitgespreek aangesien kabeldiewe inwoners benadeel en “dinge besig [is] om hand uit te ruk”.

Lightburn sê Beverley van Reenen, die burgemeesterskomiteelid vir energie, en haar span het besoek afgelê om die plaaslike uitdagings te ervaar en te sien waarmee inwoners daagliks sukkel. Kabels word glo in die groter Atlantis gestroop.

Raadslede en amptenare is Maandag in Wyk 32 gewys waar kabels die vorige dag gesteel is. Rheeder sê inwoners weet wie die skuldiges is. “Ons het nie net die kabels teruggekry wat deur die gemeenskap gehou is nie, maar die raadslid het ook met ’n vermeende kabeldief gepraat,” sê Rheeder.

Die Stad bied ’n beloning aan vir inligting wat tot die inhegtenisneming van kabeldiewe kan lei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article