Juwayne May, Avondale Primêr se beste skaakspeler.Foto: David Rossouw


Avondale Primêre Skool, wat in 2021 sy merk in die Metro Noord-skoleskaakliga gemaak het, het die afgelope twee jaar skaakspelers verbaas toe hul top skaakspeler na die proewe van die Wes- Kaapse skaakspan in Kaapstad genooi is.

Volgens Tashwin Geswindt (skaakmeester) is sy skaakspan van 12 spelers (seuns en meisies) in 2021 op die been gebring nadat hulle by die Moves for Life-skaakprogram, wat tydens die September-skoolvakansie by Grosvenor deur Moves for Life in samewerking met die Universiteit van Suid Afrika (Unisa) aangebied word, betrokke geraak het.

Skaak maak nie net ’n verskil in die daaglikse lewensvaardighede van skoolkinders nie, maar help hulle ook om uit hul gemaksone te kom, sê Geswindt.

Juwayne May, ’n gr. 7-leerder van die skool, kon nie skaak speel nie, maar sy liefde vir skaak het gou gewys dat hierdie seun met die nodige opleiding kan uitstyg, het Geswindt aan WeskusNuus gesê.

Nadat May by die skool se skaakspan aangesluit het, het hy gou die spel baasgeraak en onderwysers en familielede verbaas met sy kennis en vernuf. Die Wes-Kaapse Skaakspan Vereniging het kennis geneem van sy vaardighede en hom uitgenooi na hul proewe toe. “Met meer deelname aan kompetisies kan hierdie klein Avondaler binnekort groot hoogtes bereik,” het ’n opgewonde Geswindt gesê.

Soos enige kind droom, so droom Avondale se skaakspan ook om eendag in die Suid-Afrikaanse skaakspan opgeneem te word.

Behalwe dat Geswindt Avondale se skaakspan afrig, rig hy ook leerders van Atlantis Sekondêr en ander leerders in Atlantis af.

Geswindt sal op 13 April om 16:00 sy sertifikaat as skaakopleier by die Curro Primêre Skool in Durbanville van Reuben Salimu (FIDE-afrigter) se Chess Teacher-program ontvang. Wat ’n prestasie is dit nie vir hierdie jong onderwyser van Avondale nie – hy sal nou in die voetspore van ander onderwysers volg wat reeds skaak by ander skole in Atlantis afrig.

Lawrence Poggenpoel, die hoof van Avondale, loof Geswindt vir sy positiewe bydrae deur geleenthede vir die leerders gedurende pouses te skep waar hulle teen mekaar speel.

Dit het nie net die wedywering tussen die skaakspelers aangemoedig nie, maar ook die respek onder die leerders verbeter en tot die dissiplinevlak by die skool bygedra.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article