’n Pasgebore baba is verlede Dinsdag deur ’n minderjarige pa (15) onwettig in Darling begrawe.
Volgens die plaaslike polisie het die minderjarige ma (15) op 21 weke van haar swangerskap aan ’n baba geboorte geskenk. Haar ma het toe glo opdrag aan die dogter se kêrel gegee om die baba in die omgewing van die silo’s te gaan begrawe.
Die minderjarige ma se pa was glo onbewus van die gebeure. Nadat sy dogter infeksie opgedoen en bloeding voorgekom het, is sy dokter toe. Die dokters by die Paarl-hospitaal het besef dat sy onlangs geboorte geskenk het. Hoewel haar ma gebeure ontken het, het haar dogter gebieg en vertel waar die baba begrawe is. Volgens die lykskouing is die baba dood gebore.
Die minderjarige meisie en seun asook ’n vrou (42) het op 8 Mei in die hof verskyn. Die minderjariges is in hul ouers se sorg vrygelaat en die 42-jarige verdagte is ook op borgtog vrygelaat.
Dié voorval kom net weke ná ’n tiener ma haar fetus in Atlantis in ’n vullisdrom agter gelaat het.
Die 18-jarige ma het Maandag 22 Mei die eerste keer in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy enkele ure ná die gru-ontdekking in die Avondale-woonbuurt in hegtenis geneem is.
Die nood vir opvoeding oor swangerskap vir jongmense asook hulp vir diegene wat reeds swanger is, is weer onder die loep.
Jong vroue kan met die departement van maatskaplike ontwikkeling en ander organisasies wat hulp aan swanger tieners verleen, daaroor in verbinding tree.
. Kontak die Wes-Kaapse departement van maatskaplike werk op hul tolvrynommer 0800 220 250 vir hulp.




