Chad Bernado is doodgeskiet toe hy vermoedelik vir iemand anders aangesien is.Foto: Verskaf


Atlantis is vir die derde keer in ’n maand deur ’n dubbele moord geruk.

Vermeende bendelede het Vrydagaand in Sherwood Park twee mense doodgeskiet, van wie een ’n onskuldige slagoffer was wat, volgens familie, net “op die verkeerde tyd op die verkeerde plek” was.

Chad Bernado (26), ’n pa van ’n peuter en oorspronklik van Vredenburg, het op die toneel gesterf nadat hy gou glo lugtyd by ’n huiswinkel gaan koop het. Volgens ’n familielid woon Chad die afgelope twee jaar by haar en werk in die stad. Die familielid vertel, “Ons het ’n neef se matriekafskeid gevier toe Chad vir my gaan lugtyd koop het.”

Sy vertel dit was reeds oor 21:00 die aand toe die skote wild begin klap het. “Ons almal het uitgehardloop en gesien hy lê ’n paar meter van die ander oorledene, Tyrique Williams (20) of Boetie, soos ons hom ken,” vertel sy. “Ons vermoed Chad is aangesien as die ander een wat weggekom het toe hy die skieters gewaar,” vertel sy. Die familielid het behoorlik gal gebraak oor die skieters wat eenvoudig nie omgee wie in die kruisvuur beland nie.

Bendelede het Sondagmiddag in wat vermoed word ’n wraakaanval was, op ses mense in Sherwoodpark losgebrand. Die drie gemaskerde mans het vyf mense gewond en een doodgeskiet.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die mans gesit en kaart speel toe die verdagtes instap en begin skiet. Die verdagtes het in ’n rooi motor van die toneel af gevlug en niemand is nog in verband met enige van die twee voorvalle aangekeer nie, het sy bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article