“Hulle het my kind doodgeslaan en -gesteek en verdien nie borgtog nie!”
Dít was die woorde van Anna Cloete (54), ma van die vermoorde Deuwayne Cloete (22) wat Saterdag 4 Julie deur mans, bekend aan hom, gesteek en geslaan is.
Cloete het die volgende dag aan sy beserings in die hospitaal beswyk. Anna, familie en vriende het Maandag 20 Julie voor die Atlantis-hof betoog teen die aansoek vir borgtog vir die ses verdagtes.
Die ma vertel ’n petisie is ook aan die ondersoekbeampte oorhandig waarin inwoners vra dat die verdagtes nie op borgtog vrygelaat moet word nie.
Volgens Anna het haar seun en sy vriend ’n paar vriendinne huis toe vergesel toe een van die verdagtes in Figilantestraat Saxonsea geskree het dat Deuwayne saam met sý meisie loop. Ooggetuies vertel daar het ’n woordewisseling tussen die verdagtes en die oorledene ontstaan, waarna die verdagtes hom glo begin slaan en steek het. Anna vertel dit is vir haar moeilik om die gebeure te aanvaar aangesien haar kind en die verdagtes almal saam op skool was.
“Hy was egter nie met die verdagtes bevriend nie omdat hulle almal glo aan ’n bende behoort. Ek vermoed hulle wou lankal wraak op my kind neem omdat hy nie in hul aktiwiteite belanggestel het nie,” meen Anna. “My kind sou by ’n nuwe werk begin het en was in die kort tydjie ná skool baie hardwerkend. Hy het beslis nie verdien om so wreed te sterf nie. Wat erger is, is dat daar nie ’n ambulans beskikbaar was om my kind na die hospitaal te neem nie en ons moes hom self by die hospitaal kry,” sê sy.
Die staat staan die borgtog teen. Teen druktyd het die verdagtes steeds gepoog om op borgtog vrygelaat te word.





