Giovanni Visser (24) saam met Ouma Nella op haar 80ste verjaarsdag verlede jaar.Foto: Verskaf


“Ek wonder wat hy wou sê.”

Só wonder die ma van die vermoorde Giovanni Visser (24) van Uitbreiding 12 in Atlantis, wat Saterdagaand (6 Mei) in Darling vermoor is. Sy familie wonder steeds wat gebeur het.

Volgens sy ma, Catherine Visser (51), het Giovanni die oggend van die voorval vir haar gesê hy moet sy niggie se motor, wat sy in Atlantis gekoop het, Darling toe neem, maar hy is nie juis lus nie. Hy het vir sy ouma, Nella, wat hom grootgemaak het, gesê hy sien nie juis daarna uit om Darling toe te ry nie.

“Ek het nog gesê my kind, as jy nie seker is nie, moet jy eerder bly, maar hy het gesê hy het klaar ingestem,” vertel Nella. Hy is tussen 09:00 en 10:00 weg en die familie het hom nie weer gesien nie. Die hartseer familie sê Giovanni sou nie ’n vlieg skade aandoen nie. Hy het dieselfde dag ’n video-oproep na hulle gemaak – iets wat hy nie gereeld gedoen het nie.

Chandré van der Merwe, ’n niggie van die oorledene, sê hulle is meegedeel Giovanni is van agter deur twee mans oorval, wat hom gesteek het. Hy sou daardie aand by hulle in Darling oorslaap. Die verdagtes het glo niks by hom gevat nie. “Hulle wou hom dus nie beroof nie,” het Van der Merwe gesê.

Sy sê haar neef het, nadat hy by vriende gekuier het, besluit om na haar huis te gaan toe die twee verdagtes hom voorkeer. “ ’n Vriendin van die familie het Giovanni herken toe die twee met hom praat en sy naam geskree, toe los hulle hom. Die vriendin het toe saam met hom gestap.”

Sy sê haar vriendin het hom gevra wat fout is en hoekom die twee ‘skurke’ hom voorgekeer het, maar hy wou nie uitbrei nie. Giovanni het later ongesiens uitgestap, waarna almal na hom gesoek het, en dit was toe hy vermoedelik weer in dieselfde twee mans vasgeloop het, het Van der Merwe gesê.

Die twee het hulle aan die polisie oorgegee en het reeds in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article