Charlene de Bruyn, ma van die vermoorde Chanté, sê dit voel nog onwerklik en sy vra steeds hoekom hulle dit gedoen het. Foto: Murphy Roberts


“Wanneer kom mammie huis toe? Sy maak lank.”

Só wou Chanté de Bruyn (22) se vierjarige dogtertjie weet nadat sy Saterdagaand (30 Oktober) afgemaai is.

De Bruyn se ouma, Theodora van Heerden (64), moes egter die kind na haar ander ouma neem. De Bruyn het Saterdag by vriende gekuier toe ’n ongenooide gas glo by die kuier uitgesit is. Dit was kort na dié voorval, omstreeks 23:00 wat De Bruyn doodgeskiet is.

Volgens Van Heerden sou haar kleinkind haar studies volgende jaar begin het.

Terwyl die trane vlak in Van Heerden se oë lê, het sy aan Weskus Nuus vertel van die laaste oomblikke wat sy haar kleinkind lewend gesien het.

“Sy was opgemaak vir haar vriendin se kuier in Robinvale, omdat hulle lank aan die geleentheid beplan het. Sy het Saterdagmiddag opgewonde klaargemaak om te gaan kuier.

“My kleinkind het altyd omgegee vir ander en was die darling in haar vriendekring,” sê die ouma.

“Wat vir ons moeilik is om te aanvaar, is dat ons die kinders wat vir haar dood verantwoordelik is, ken.”

Van Heerden sê die groep het lekker gekuier toe die jongman “homself genooi het”.

Die jongspan het glo die ongenooide gas gevra om eerder te gaan – juis omdat hy moeilikheid sou veroorsaak.

Die jongman het hom glo egter teëgesit en is toe uitgesit.

“Die jongspan het my vertel hy is daar weg, maar het glo gesê ‘julle gaan nou wys raak’. Die skurk het teruggekom met nog ses ander jongens en net begin losbrand.

“Chanté is met die eerste skoot in die been getref.”

Volgens vriende het Chanté aan die skieters gevra: “Wat doen jy dan nou? Dis ek; dis Chanté!”

Die skieters het na bewering aangehou skiet en De Bruyn is noodlottig gewond. Twee ander vriende is ook gewond.

Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het De Bruyn op die toneel aan haar wonde beswyk. Die ander twee is hospitaal toe geneem vir behandeling.

Munro het bevestig twee verdagtes is ná die voorval aangekeer terwyl nog twee hulself aan die polisie oorgegee het. Volgens Munro soek die polisie na nog drie verdagtes.

Die vier verdagtes wat reeds in hegtenis is, het Dinsdag in die hof verskyn en sal tot hul volgende verskyning Woensdag 24 November aangehou word.

Inwoners, vriende en familie het Vrydag (5 November) hul laaste eer aan “die darling” van Crow Court (Dura) tydens ’n verbyry-diens met blomme getoon en sy is die volgende dag begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article