CJ Van Zyl op die aanval vir Jomo’s, met Alonso Williams wat ondersteun. Jomo’s het egter met 0-2 teen Ulana vasgeval. Foto: David Rossouw


Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) Kaapstad se Coca-Cola Peninsula Beverage-uitklopbeker is van die strafste sokkerkompetisies, maar een van die opwindendste sokkergebeurtenisse in die metropool.

Meer as 500 amateur klubspanne ding mee om die gesogte silwer trofee in drie verskillende afdelings – seuns o.18, vroue en senior mans.

Jomo’s Power se o.18-sokkerspan van die Atlantis- plaaslike sokkervereniging het die eerste keer in sy bestaan vir die kwarteindstryd gekwalifiseer, wat deur die Dunoon- plaaslike sokkervereniging op die Dunoon-sportveld aangebied is.

Jomo’s Power, wat sy voorafwedstryde gewen het, het Sondag 17 September na Dunoon gereis en sokkergeesdriftiges van Atlantis en die metropool gelok, waar hy die Ulana Akademie se sokkerspan van Mandalay, Mitchells Plain, aangedurf het.

Die wedstryd sou bepaal wie van die twee – Hellenic of Kaapstad Spurs – Sondag 24 September in een van die twee kwarteindwedstryde op die Stephen Reagan-veld in Westridge, Mitchells Plain, aandurf, maar die afrigter Nathaniel van Graan se Jomo’s-span het egter sy rieme styfgeloop en teen ’n vlugvoetige Ulana-span gestruikel.

Jomo’s is vanuit die staanspoor deur Ulana onder druk geplaas en die doelwagter Mornay Douty is vroeg in die wedstryd met kanonskote gepeper, maar hy het die aanvalle oorleef.

Jomo’s het in die 20ste minuut ’n kans gekry om die voortou met ’n vryskop te neem. Allezandra Kotze het die vryskop waargeneem, maar kon ongelukkig nie die agterkant van die nette vind nie.

Ulana het egter in die 28ste minuut van die eerste helfte wel ’n doel met ’n vryskop behaal. Met die aanbreek van rustyd het die twee spanne water gaan drink met Ulana 1-0 voor.

Van Graan het in rustyd harde woorde met sy span gehad.

Hoewel Jomo’s se spel in die tweede helfte met die toevoeging van die plaasvervangers verbeter het, het Jomo’s steeds te veel foute begaan, wat Ulana uitgebuit en in teen aanvalle omgeskep het.

Ulana se verdedig in die middelveld het Jomo’s tot foute gedwing en met 15 minute speeltyd oor het Ulana ’n uitstekende doel ná goeie spel behaal.

Hoewel Jomo’s die laaste 15 minute verwoed aangeval het, was die berg net te hoog om te klim en het hy sy rieme teen die vlugvoetige Ulana Akademie-span met 2-0 styfgeloop toe die eindfluitjie op die Dunoon-veld aangedui het alles is verby.

Van Graan kan egter trots wees op sy span se prestasie en om aan Safa Kaapstad en Coca-Cola Peninsula Beverage se opwindende Coke-beker te kon deelneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article