Jomo’s Power se droom het waar geword toe die span Woensdag (5 April) sy eerste verskyning nog in die geskiedenis van die gesogte Bayhill Premier-bekertoernooi in Belhar gemaak het.
Jomo’s het die wedstryd met hope balbesit in die eerste 15 minute beheer, maar dit was ook al, want hy kon nie uit Dunoon YSA se foute munt slaan nie.
Die debutante se onvermoë om doele aan te teken, het Dysa in staat gestel om na vore te beur en Jomo’s se houvas op die wedstryd het ’n knou gekry. ’n Gebrek aan konsentrasie in die middelveld het Dysa van die 20ste minuut af in staat gestel om beheer oor te neem, wat Jomo’s op die agtervoet geplaas het.
Swak oordeel deur Jomo’s in die 28ste minuut het tot ’n strafskop vir ongeoorloofde spel in die doelgebied op een van Dunoon YSA se spelers gelei. Die kaptein, Sandisele Sino, het Mandise Pama nader geroep om die strafskop waar te neem. Pama het geen fout begaan nie en die bal suiwer agter in die net gesit om sy span 1-0 voor te laat loop. Dit was ook die rustydtelling.
Tydens halftyd het die afrigter Arnold Marlow harde woorde met sy spelers gewissel. Hy was ontevrede met sy spelers se vertoning, wat Dysa toegelaat het om beheer in die middelveld oor te neem.
Jomo’s, wat sowat 60% van die balbesit beheer het, kon net nie deur Dysa se rotsvaste verdediging breek nie en namate die wedstryd gevorder het, het dit gelyk asof sy uurglas uitloop.
Met sowat vyf minute oor is ’n vryskop van 30 m in die tweede helfte aan Jomo’s toegeken. Tyreese Arendse se kanonskoot is briljant deur die doelwagter, Akho Fadana, gekeer, en dit het gelyk asof Dysa die wedstryd in die sakkie het, wat ’n geskiedkundige oomblik sou wees, maar dit het nie Jomo’s se veggees op soek na die gelykmaker gedemp nie.
Fadana se briljante doelwagterspel en swak besluitneming en foute was Jomo’s se grootste kopseer. Jomo’s het egter aanval ná aanval na Dysa se doelhoek van stapel gestuur, maar briljante doelwagterspel deur Fadana het verhoed dat Jomo’s ’n doel behaal deur die soveelste poging te keer.
Met een minuut oor het Jomo ’n laaste geleentheid gekry om die gelykmaker met ’n hoekskop te behaal.
Duffton Appels het die bal op ’n tiekie geplaas, wat dit net buite Fadana se bereik verbygestuur het en die kaptein Allesandro Kotze in staat gestel om die gelykmakende doel te behaal.
Dit was ’n merkwaardige dag se spel vir albei spanne van Atlantis en Dunoon in hul eerste Bayhil Premierbeker-wedstryd, wat lank deur die spelers onthou sal word.
’n Oorwinning oor Cape Town City en Safa Cape Town in hul oorblywende groepwedstryde sal die kersie op die koek wees om tot die laaste 16 deur te dring, “wat die grootste prestasie vir ons sal wees”, het Marlow gesê.





