Anlonso Vallentyn van Atlantis Leeds breek verby Wesfleur se Travis Maker in a o.8-ligawedstryd van die Atlantis Plaaslike Sokker Vereniging.Foto: David Rossouw


Sokker is steeds ’n gunstelingsport onder sportmanne en vroue in Atlantis, en Saterdag 29 April was weer eens ’n bewys dat sokker steeds ’n hoë aansien in Atlantis geniet.

Nadat die opening weens probleme met registrasie met ’n week vertraag is, het ouers en ondersteuners aan die Robinvale-sportkompleks besoek afgelê om hul kinders en gunstelingspanne van die Atlantis- Plaaslike Sokker Vereniging (APSV) in die 2023-ligakompetisie te ondersteun.

Met ’n paar nuwe klubs wat vir die eerste keer deel is van die APSV, het dit weer eens bevestig dat plaaslike sokker onder die jeug in Atlantis toeneem.

Met Jomo’s Power AFC, wat in die SAFA-Kaapstad-streekkompetisie in die derde afdeling deelneem; Atlantis Saints in die vroue-streekkompetisie en ’n o.19-span wat aan die pas afgelope 2023- Bayhill-premierbeker deelgeneem het, het gewys die APSV het gewis verbeter.

Seuns en meisies van vyf tot agt jaar oud het die opwindende o.8- ontwikkelingskompetisie om 09:00 afgeskop en ouers en toeskouers met hul balvernuf vermaak.

Volgens Donovan Dolphen, hoof van jeug-sokkerontwikkeling, wil hulle hê seuns en meisies moet sokker speel om die sport te geniet en nie net om te wen nie. Hulle is ook voorstanders om ouderdom teen ouderdom te laat speel.

Die APSV se doelwit is om die 13 manspanne en een vrouespan verder uit te brei om teen ander plaaslike verenigings mededingend te wees.

Hul strewe is om gehaltespelers te ontwikkel, wat in die voetspore van spelers soos Yussuf Maart (Bafana Bafana en Kaizer Chiefs) en Roy-Kean Avontuur (o.17- SA nasionale jeugspan en Stellenbosch FC) kan volg.

Met Weskus Nuus se besoek aan die Robinvale-sportkompleks was die laaste o.8-wedstryd tussen Atlantis Leeds en Wesfleur aan die gang.

Nadat die wedstryd gelykop geëindig het, het die spelers – soos die gewoonte by sportmanne en -vroue is – mekaar die hand gegee as waardering vir die wedstryd.

Christina Van Graan (Antie Baba), ’n bekende gesig in Atlantis-sokkerkringe en die Van Graan-sokkerfamilie, het aan Weskus Nuus gesê sy het haar sokkerliefde by haar man, Jan van Graan, geleer en vandag is dit algemeen vir haar.

“Dit is net ’n jammerte dat hy nie meer saam met my die kindertjies kan ondersteun om die potensiaal wat hierdie kinders het, te sien nie, want hy is nie meer met ons nie,” het Antie Baba gesê.

Volgens Laetitia Adams, ’n ouer van ’n jeugspeler, is dit lekker om haar seun en sy span in die Atlantis PSV se ligakompetisies te kom ondersteun. “Die koronavirus het ons weg van die velde gehou, maar dit is goed om weer op die veld te wees,” het sy gesê.

Volgens Dolphon is die jeugwedstryde goed deur ouers ondersteun en die jeugsokkerafdeling bedank alle ouers en ondersteuners vir hul bydrae tot jeugsokker in Atlantis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article