Jeugdag op 16 Junie het baie jongmense die geleentheid gebied om hul talent ten toon te stel.
Verskeie organisasies het bewusmakingsveldtogte aangebied om die leiers van môre oor hul regte en ander aktiwiteite bewus te maak.
Fiona Abrahams, proporsionele raadslid, het besluit om die jongspan te bemagtig. Sy het jongmense wat verder wil studeer, met aanlyn aansoeke gehelp.
“Ek weet nie baie het toegang tot die internet nie, en daarom het ek jongmense na my huis genooi waar ek en ander vrywilligers hulle gehelp het,” verduidelik sy.
Volgens Abrahams het die groep by verskeie inrigtings aansoeke ingedien en terselfdertyd ook aansoek vir beurse gedoen.
Die tweedaagse sessie het 20 jongmense gelok wat gehelp is.
Die Atlantis-polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het op hul beurt ook verskeie Jeugdag-projekte aangebied en in Mamre saam met die plaaslike buurtwag, JCM Youth, Survivors Haven Foundation, Open Heart Projects en Youth for Life bewusmaking oor dwelm- en alkoholmisbruik, geslagsgeweld en waar om hulp te kry vir die kwessies, gedoen. Die GPF en polisie het ook jeugdiges in die Dura-woonstelle met verskillende aktiwiteite vermaak.
In Witsand het die plaaslike buurtwag met ’n netbaldag ook gewys dat baie talent in die buurt skuil.
Volgens Abdul Tajoodien, voorsitter van die GPF, is dit belangrik vir gemeenskappe om te weet die polisie is nie ’n vyand nie, maar liewer daar om te help.
Chris Nissen, Wes-Kaapse menseregtekommissaris, het ook die jongspan ingelig oor hul regte en inwoners aangemoedig om veral misdrywe teen vroue en jeugdiges aan te meld.
Die Atlantis-rotariërs het Woensdag ’n groep jeugdiges na Silwerstroom-strand geneem waar die jongspan die strand help skoonmaak het.


