“Dit was een van Jakkels se gunsteling-baadjies,” wys Ronald Pietersen by die plek waar Ashley Jansen, of “Jakkels”, soos hy bekend gestaan het, altyd in die bos geskuil het.Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Neptune Castle soek antwoorde oor die dood van Ashley Jansen.

Inwoners wil weet wie het Jansen, of Jakkels, soos hy bekend was, vermoor nadat sy erg beseerde naak liggaam by die hospitaal afgelaai is. Hy het daarna aan sy beserings beswyk.

Jakkels en ’n vrou, bekend aan Weskus Nuus, het vermoedelik Dinsdag (15 Maart) besluit om by ’n plaas in te breek toe hulle betrap is.

Volgens dié vrou, wat met Weskus Nuus op die voorwaarde van anonimiteit gepraat het, moes sy op die uitkyk wees toe Jakkels gevang word, en sy het laat spat. “Op pad Atlantis toe het die polisie my gevang en tik by my gekry. Ons is na die plaas nadat die eienaar of iemand alarm gemaak het oor ’n inbreker,” vertel sy.

Nadat die vrou deur die polisie ondersoek is, is sy agter in ’n vangwa gesit. Terwyl hulle onderweg was, het die polisie ’n oproep ontvang en die vrou is toe saam met polisie terug na die plaas.

“Ek kon sien Jakkels was reeds lekker geslaan, want die polisie het hom na een van die vangwaens gesleep en die houe het omtrent geval,” vertel die vrou oor wat sy op die toneel gesien het. “Ek kon duidelik sien hoe die polisielede slaan en het ook hul naamplaatjies gesien. Ek sluk maar swaar aan die storie dat die veiligheidswagte van die moord – Jakkels se moord – verantwoordelik gehou kan word,” meen sy.

Volgens Ronald Pietersen, ook van Neptune Castle, het hy voorheen saam met Jakkels op dieselfde plaas gaan inbreek. “Ek was die oggend met Jakkels se dood vroeg deur ’n speurder besoek wat wou weet wie saam met hom was. Ek het uitgevind en het persoonlik die vrou wat alles aanskou het, na die polisiekantoor geneem om die speurder te vertel,” verduidelik hy.

Volgens Ronald was hy verbaas toe verduidelik word hoe die polisie Jakkels glo geslaan het en hoe die vrou gesê is om later terug te kom “want sy was dronk”.

Die getuie het egter aan Weskus Nuus bevestig haar verklaring oor die aangeleentheid is nooit afgeneem nie. Sy is glo aangesê om nie met die saak “in te meng nie”.

Intussen is Jakkels se ouers verpletter oor die nuus van sy dood. Hulle het aan WeskusNuus gesê hulle is nog nie gereed om met die media te praat.

Volgens kapt. Lisa Munro, plaaslike polisiewoordvoerder, is twee verdagtes vir die moord aangekeer en hulle sal binnekort in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article