Nadat Charles “Chico” Oppelt as die Suid-Afrikaanse rolstoel-liggaamsboukampioen in 2022 gekroon is, het deelname aan die 2023-Afrika- Arnold Classic-sportfees-byeenkoms in Roodepoort, Johannesburg, ’n werklikheid vir hom geword.
Oppelt, wat na die byeenkoms vergesel is deur sy meisie, Amber Mingo, met wie hy die afgelope 17 maande bevriend is, het ook sy romantiese kant gewys toe hy in samewerking met personeel en die kaptein van Flysafair die groot vraag 38 000 voet in die lug in gevra, en die twee verloof geraak het.
“Hoewel ons mekaar langer as vyf jaar ken, is ons maar net 17 maande as outjie en meisie bymekaar,” het Oppelt vertel.
Hy sê dit was Mingo se heel eerste vlug en hy wou dit spesiaal maak. Sy gedagte om Mingo om haar hand te vra, was vir haar ’n verrassing, hoewel sy geweet het hy gaan die vraag die een of ander tyd vra, maar sy het nie verwag dit sou in die vliegtuig wees nie.
“Met die gedagte dat ek die toekomstige mevrou Oppelt aan my sy het, het ek na enige uitdaging op my pad uitgesien,” het Oppelt gesê. “Dit het my aangespoor om goed te vaar by die 2023-Afrika- Arnold Classic-sportfees-byeenkoms in Roodepoort, Johannesburg, wat van 19 tot 21 Mei gehou is. Hoewel ek ’n silwermedalje ontvang het, het dit my nie negatief gemaak nie. My tweede plek het my weer eens laat besef hoe gelukkig ek is om mense te hê wat vir my omgee, en daarom hoop ek ek kan ’n inspirasie vir ander gestremdes wees,” vertel Oppelt.
Oppelt, wat in 2002 op 17-jarige ouderdom ’n ernstige besering aan sy ruggraat opgedoen het toe ’n skrum op hom ineengestort het terwyl hy vir sy geliefde Mamre-rugbyklub gespeel het, is van die nek af verlam.
Hy neem sedert sy ongeluk aan verskeie para-sporte deel, soos rolstoelrugby en rolstoelliggaamsbou, wat hy maar nog net agt maande beoefen, danksy ’n vriend wat hom daaraan bekendgestel het.
Oppelt het vyf jaar gelede, tydens sy fisio en opleiding by die Enhanced-sentrum in Kaapstad, Marko Pietrowski, ’n professionele liggaamsbouer, ontmoet, wat ná ’n ongeluk ook verlam is. “Pietrowski het my laat besef ek kan steeds presteer – ongeag my gestremdheid,” het hy gesê.
Charles en Mingo het Saterdag (27 Mei) ’n klein seremonie by Oppelt se ouerwoning in Henning Huising-straat, Mamre, vir vriende en familie gehou.
Hy en Mingo bedank almal wat ’n bydrae gelewer het.
“Mingo kon as gevolg van ’n borgskap vir die vlugkostes deel wees van my sukses en ons bedank die skenker daarvoor, en ook die personeel van Flysafair en almal,” het Oppelt gesê.




