Die brand in Edinburg het inwoners erg ontstoke gelaat en talle sê dit kon soveel erger gewees het. Foto: Murphy Roberts


Inwoners van Edinburg-woonstelle is erg omgekrap omdat ’n brand groot skade aangerig het.

Volgens Zane Allard, wat in die woonstelblok woon waar die brand begin het, was hy onbewus van die brand tot iemand alarm gemaak het.

“Ek het agter gaan kyk en gesien die hok wat ons as stoorkamer gebruik, is in ligte laaie,” vertel hy.

“Ek en van my vriende het maar self ingespring om die brand te probeer blus aangesien ons nie baie hulp van ander inwoners gekry het nie.” Volgens ’n inwoner, wat nie identifiseer wou word nie, het sy reeds vroeër geraas dat ’n vuur doodgemaak moet word omdat sy pas haar wasgoed uitgehang het. Die inwoner vertel oor Allard: “Hy lieg as hy sê hy weet nie hoe die brand ontstaan het as hulle dan reeds van vroeg af kabels daar gebrand het nie. Dit gebeur gereeld dat hy en sy makkers daar vuurmaak om kabels te brand.” Dié inwoner en ander bure sê hulle is moedeloos oor die doen en late van sommige in die woonstelle.

Inwoners meen die hele brand kon soveel erger gewees het as die wind sterker gewaai het en is bly die brandweer kon dit verhoed.

Volgens die buurvrou is die vlamme geblus nadat sy gekla het, maar die vuur was nie reg doodgemaak nie, omdat dit nog gesmeul het. “Toe ons weer sien, toe brand die hele geboutjie.”

Volgens Allard praat mense snert en hy vra hoekom sal hy sy eie plek wil afbrand.

Weskus Nuus het vertroulik verneem dat die woonstel waar die brand begin het, nie aan Allard behoort nie en dat die regmatige huurder reeds oorlede is.

Die bron het ook gesê ’n ondersoek sal ingestel word oor almal wat tans daar woon. Volgens Kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word die brand nie ondersoek nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article