Inwoners wat hul oë net op geld rig, is verantwoordelik dat tot drie sake per week vir aanlyn bedrog aangemeld word, het die plaaslike polisie bevestig.
Volgens kol. Mario Thyse, die stasiebevelvoerder, is dit nie net gewone lede van die gemeenskap nie, maar sakelui en selfs polisielede tot gewone mense wat van ’n toelae afhanklik is, wat slagoffers word.
Weskus Nuus het reeds verskeie kere berig oor dié soort bedrogspul en inwoners word weer eens gewaarsku om uiters versigtig te wees.
Volgens Thyse word mense deesdae met ’n paar slenters uitgevang. Hiervan is die suksesvolste manier waarmee bedrieërs mense inloop, ’n oproep van “Absa Bank”.
Hy verduidelik:
Nog ’n slenter wat deesdae ingespan word, is aanlyn dobbel.
Volgens kapt. Shawn Smit lok die skurke slagoffers met klein uitbetalings wat dit baie oorspronklik laat lyk. Smit sê dit werk soos volg: “Jy begin met ’n klein bedrag en kry dan jou geld byna dubbel terug”.
Hy sê die bedrieërs steek dus die hand in eie sak totdat slagoffers oorreed word om groter bedrae te waag.
Dit is dan wanneer dinge verkeerd gaan, verduidelik hy. Volgens Thyse is die drie sake per week van mense wat wel klagtes aanmeld, maar nog baie ander is bloot te skaam om ’n klagte aan te meld. “Ons hande is afgekap omdat die bedrieërs baie slim is [in] die manier waarop hulle te werk gaan en die kanse om enige sukses te behaal, is maar skraal.”
Thyse sê mense moet besef as iets te goed klink om waar te wees, moet hulle eerder wegstap, aangesien daar slegs een manier is om meer geld te verdien, en dit is om harder te werk.





