Terwyl baie inwoners steeds die inperkingsreëls ignoreer, het Atlantis se Covid-19-gevalle sedert 29 April vanaf 18 tot 68 (20 Mei) gestyg.
Met die polisiekantoor wat ook reeds twee keer – kort na mekaar – gesluit moes word nadat verskeie polisiebeamptes positief getoets is, moes ’n bekende winkel in die Atlantis-inkopiesentrum ook Woensdag 20 Mei sy deure tydelik sluit ná ’n persoon positief getoets is.
Die stand van sake in Atlantis per gebied op 20 Mei lyk so:• Saxonsea word tans die ergste geraak met 15 positiewe gevalle; •Avondale en Robinvale het 13 gevalle elk;• Witsand 7; • Mamre 6;• Beacon Hill en Protea Park het 5 gevalle elk;• Sherwood Park 3; • Nywerheidsgebied 1.
Inwoners van Atlantis het onlangs gal gebraak op sosiale media oor bewerings wat die ronde doen dat die Stad besig is om die plaaslike begraafplaas gereed te maak vir massagrafte. Die kontrakteur wat die laaste deel van die opgraderingswerk doen, het Weskus Nuus verseker hulle is beslis nie besig om massagrafte te maak nie, die opgradering te voltooi.
Volgens dr. Zahid Badroodien, Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapdienste en gesondheid, is die opgradering deel van die Stad se 2019-’20-begroting wat weens die inperking nie voltooi kon word nie.
Badroodien sê ook die Stad is wel besig met beplanning en voorbereiding vir die ergste en dat Atlantis-begraafplaas oor die ruimte beskik indien die sterftegetalle meer as 100 per dag raak.
“Die Stad bespreek tans nie net die moontlikheid om ruimte te skep vir die toename in sterftegvalle nie, maar ondersoek ook ander opsies. ’n Finale besluit sal eers later gemaak word – ná konsultasie met verskillende staatsdepartemente,” sê Badroodien.


