Inwoners van Pella het Dinsdag 27 April op Vryheidsdag gewys hulle is moeg van dwelmhandelaars in die dorp.
Volgens Fiona Abrahams, ’n proporsionele raadslid, ervaar Pella die afgelope paar maande ’n geweldige toename in dwelmhandel en -misbruik.
“Ons kan nie langer staan en toekyk hoe die dorp se jongmense so deur die inkommers misbruik word nie,” het die optoggangers gesê.
Volgens Abrahams is Vryheidsdag gekies “omdat ons wil wees, ons mense is nie regtig vry nie”. “Ons word gyselaar en gevange gehou deur ’n handjie vol mense, en dit gaan stop,” sê sy. Inwoners het vreedsaam deur die strate gestap om dwelmhandelaars bewus te maak dat verandering gaan plaasvind en hulle nie meer net gaan staan en toekyk hoe jong mense se lewe verwoes word nie. Die optoggangers het geestelike liedjies gesing en naby elke dwelmhuis gebid.
Organisasies soos die Willow Park-komitee, Pella CRDP, die Pella Morawiese Kerk, Pella Welfare-sopkombuis, Pella Werf-komitee en raadslede Allister Lightburn en Abrahams het die optog ondersteun.
Volgens Abrahams wou hulle ’n petisie aan dwelmhandelaars oorhandig om hul bedrywighede binne sewe dae te stop, maar die Stad Kaapstad se regulasies het hulle egter verhinder en daarom is besluit op gebed en koortjies.
Inwoners van Pella vergader binnekort om hul plan van aksie verder te bespreek.




