Inwoners konfronteer Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, omdat hy glo net leë beloftes kom maak. Foto: Murphy Roberts


Dit het amper handuit geruk.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het Woensdag 30 November sy slaggat-herstelprojek in Atlantis bekendgestel.

Felicity Purchase, burgemeesters­komi­teelid vir vervoer, plaaslike raadslede en van die stad se padherstelpersoneel het die burgemeester vergesel.

Plato het op die hoek van Grosvenor­laan en Fortunestraat met dié projek begin en het self sy moue opgerol en nie geskroom om sy hande vuil te maak nie.

Volgens Plato het hulle nou ’n back to basics-houding om dienste aan verskil­lende gemeenskappe te verbeter. Plato sê paaie moet gereeld instand gehou word aangesien dit daagliks deur inwo­ners gebruik word.

Ontstoke inwoners het gou saamge­drom en gesê Plato kom versprei net meer leuens aan inwoners van Atlantis.

“Hulle (politici) is gou om beloftes te maak net om ontslae te raak van ons,” het die groep ontstoke inwoners gesê.

“Maande later en ons het nog geen terugvoering oor belangrike kwessies nie,” het die groep Plato toegesnou.

Die burgemeester het rustig voortgegaan met die herstelwerk en gevra dat die groep soos grootmense optree en nie soos straatvroue skel nie.

Die groep het egter teruggekap na Plato dat hy ’n leuenaar is en het byna bors teen bors met die burgemeester gestaan toe lyfwagte moes intree wat gemoedere nog verder opgejaag het.

Die groep het Plato daarvan beskuldig dat hulle raadslid Cynthia Clayton teiken en van haar “ontslae wil raak”.

Die burgemeester het aangevoer dat hy nie hier is vir politiek nie, maar om dienslewering aan die gemeenskap te verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article