Skote klap


Skote het Vryheidsdag hier behoorlik geklap toe twee vermeende skieters op ’n groep jong mense losgebrand het.

Kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, sê ’n groep mans het by ’n spaza-winkel in Lantanasingel, Protea Park, gestaan toe die skote klap.

Volgens Munro is agt mense getref, onder wie ’n 13-jarige wat skrams in die kop getref is. Die agt het mediese behandeling ontvang en is reeds almal ontslaan.

Volgens Jospeh Witbooi, ’n proporsionele raadslid, sukkel inwoners geruime tyd met bendebedrywighede en het nou weer met die polisie vergader om die probleem die hoof te bied.

Inwoners het reeds verlede jaar in Oktober teen ’n vermeende bendelid in opstand gekom en voor sy huis betoog dat hy moet skoert.

Volgens Munro is dit onbekend of die voorval met bendebedrywighede verband hou aangesien die meeste van die gewondes op skool is.

Die ouderdomme van die beseerdes wissel tussen 13 en 28 jaar.

Geen verdagtes is nog aangekeer nie, het Munro gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article