Bome groei stadig en met liefde daarom moet dit baie liefde kry en waardeer word.
Só het wyk 29 se raadslid, Cynthia Clayton, Woensdag 23 September aan inwoners van Saxonsea gesê. Clayton en die proporsionele raadslid, Allister Lightburn, het saam met munisipale amptenare bome by die Mashakanepark in Saxon- Sea geplant.
“Die park is daar vir almal en die inwoners moet daarna omsien,” het Clayton verder gesê. Inwoners van die gebied wou by Clayton weet hoekom is daar net ’n netbalbaan in die park is en nie ’n sokkerveld nie.
“Ek het na julle eise geluister en het geld begroot vir volgende jaar se boekjaar,” het sy die groep verseker. Lightburn sê die park moet verder opgegradeer word met toilette en meer sitplekke vir inwoners.
Clayton sê ook dat die Mashakanepark tans een van die parke in Atlantis is, wat die beste na gekyk word. Inwoners het die raadslede verseker dat hulle na die park en nuwe bome met dieselfde liefde as wat dit groei, sal kyk.





