Evan Martinus, voorsitter van die Atlantis-skoolhoofdevereniging, sê dit gaan ’n moeilike proses wees aangesien kinders eers die basiese feite oor die virus geleer moet word. Foto: Verskaf


Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Dinsdag 19 Mei gesê die plan om skole op 1 Junie oop te maak, sal voortgaan.

Volgens Motshekga het haar depar­tement toestemming van die National Command Centre (NCC) gekry om met die infasering van leerders te begin. Planne om leerders in gr.12 en gr.7 eerste terug in skole te faseer, gaan voort, het sy gesê.

Volgens Evan Martinus, voorsitter van die Atlantis-skoolhoofdevereniging, gaan dit beslis moeilik wees omdat leer­ders eers die basiese goed van die virus geleer moet word. “Skole sal by die reëls van veilige afstand moet hou, maar dit gaan moeiliker raak namate die getalle gaan groei,” sê Martinus.

“Baie van ons skole wag nog op vei­lig­heidstoerusting, maar die departe­ment van onderwys het verseker die sko­le sal voor 1 Junie hul voorraad kry,” sê hy.

“Die moontlikheid dat skole sou oop­maak was altyd daar, maar die veilig­heid van leerders en onderwysers moes in ag geneem word,” het Motshekga gesê. Volgens die minister was dit be­lang­rik om eerstens skole Covid-19-ge­reed te kry, asook om eers vas te stel of daar enige ander siektes onder onder­wysers en leerders is.

“Dit is waarom dit baie belangrik is dat ouers skole moet inlig as hulle kin­ders enige onderliggende mediese pro­ble­me het,” het sy verduidelik.

Volgens Motshekga is die onderwysers vanaf Maandag 25 Mei terug by skole – ’n week later as wat aanvanklik beplan is. Volgens haar word daar tans ook met die departement van vervoer beraadslaag oor hoe die veiligheid van leerders verseker sal word as hulle van vervoerdienste gebruik maak.

Sy voeg by dat personeel wat by die skoolvoedingskemas betrok­ke is, opgelei sal moet word om op ’n nuwe manier kos vir leerders te berei. Sy het beloof dat die departement van water en sanitasie sal verseker dat daar water by alle skole sal wees.

Volgens dr. Zahid Badroodien, Stad Kaapstad se burge­meesters­komiteelid vir gemeenskap­dienste en gesondheid, is kinders jonger as 10 jaar se kanse om die virus op te doen baie skraal.

Ouers het ook hul misnoeë uitge­spreek. Hulle voel dat terwyl die parle­ment, restaurante en kerke gesluit hou en mense nie mag reis en rook nie, is dit nie veilig vir hul kinders om na die skool terug te keer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article