In 1971, ten tyde van die geskiedkundige Britse toer van die Proteas van die toenmalige Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalfederasie, het ’n jong senter die oog van die hoogs kritieke Engelse rugbyskrywers gevang.
Ook sy naam, Green Vigo, was ’n aantrekkingskrag.
Vir Green en sy spanmaats was hierdie toer inderdaad die amptelike toetrede tot die internasionale rugbyarena. Gegewe die politieke atmosfeer van die tyd was die onderneming daarvan ook hoogs omstrede.
Diegene wat die toer voorgestaan het, was op hul beurt weer van oordeel dat die tyd vir swart rugbyspelers inderdaad reg was om hul talent en vernuf aan die wye wêreld te wys.
Hierdie toer was egter bepalend vir die verdere loopbaan van die jong Green Gregory Vigo, in daardie stadium ’n uithaler-senter vir die Swartland-rugbyunie in die klipharde provinsiale Goue Beker-kompetisie van die Federasie en ’n staatmaker vir die Saldanha-Tigers-rugbyklub. Ten spyte van die veel sagter Britse velde en die vreemde speelomstandighede, het die frisgeboude en blitsige agterspeler hom deurentyd op die toer laat geld en sy teenstanders deurentyd besig gehou en laat les opsê.
Alhoewel Green geen drieë in die toerwedstryde teen enige van Hertfordshire, London Old Boys, Berkshire, Oxfordshire, Buckinghamshire of die United Hospitals gedruk het nie, het hy ’n waardevolle bydrae tot die toerprogram gelewer en het hulle een wedstryd gewen, een gelykop gespeel en drie verloor.
Vigo op sigself het in drie van die vier toerwedstryde gespeel. Die toer is ook aansienlik bemoeilik deur deurlopende anti-apartheid-betogings en die wedstryd teen Hertfordshire is verskeie kere deur op-die-veld- en ander betogings onderbreek. Desnieteenstaande het hy van die toer af teruggekeer met ’n aansienlik verhoogde reputasie wat hy verder in die Proteas se opspraakwekkende wedstryd op die Goodwood-skouterrein teen die besoekende Engelse toerspan in 1972 uitgebou het.
Ná sy uitstaande vertonings teen die beste Engelse rugbytalent is Vigo ’n jaar later deur die rugbyligaklub Wigan vir ’n loopbaan in professionele rugby gewerf. Sonder enige vooruitsigte om op meriete vir die Springbokspan gekies te word, het hy die geleentheid, waarby ’n vyfjaar- kontrak, ’n vertroulike dog aansienlike werwingsfooi en ’n vergoedingspakket van R60 per weg-wedstryd en R45 per tuiswedstryd ingesluit was, aanvaar.
Die aanbod, in Green se eie woorde, “te goed was om van die hand te wys”!
Hy het Wigan van 1973 tot 1980 in 166 eersterangse wedstryde verteenwoordig en 86 drieë (altesaam 260 punte) gedruk.
Een van die vroegste hoogtepunte in sy Wigan-loopbaan was die wedstryd op 27 Oktober 1973 teen Hull Kingston Rovers waarin Green drie drieë vir sy span se oorwinning van 38-3 gedruk het. Dit was sy eerste jaar in die professionele rugbyliga waarin hy 11 drieë in 26 wedstryde gedruk en daarmee saam byname soos “Super Green”, die “Wizard of Wigan” en die “Saldanha Iron Horse” verwerf het. Green was egter vanweë sy spoed en aggressiewe spel spoedig ’n teiken vir sy teenstanders. Hy het in sy eerste wedstryd ’n paar tande verloor nadat hy met ’n stywe arm gelak is.
In die 1977-’78-seisoen het Green hom as een van die legends van die Britse rugbyliga gevestig toe hy 48 drieë in 40 wedstryde gedruk het.
Hy het sy beste driedruk-vertoning gelewer toe hy drie drieë in ’n John Player-bekeroorwinning teen Leeds gedruk het. Bill Ashurst, ’n spanmaat, onthou: “It was Green Vigo’s game. Fans from both clubs, with the BBC television audience who watched the second half live, saw the best and full potential of Green. He made one of the best wingers of the previous decade for Leeds and Great Britain, John Atkinson, look out of place beside him. We were trailing by 10 points after 55 minutes and it looked as if we were going to be knocked out. Green then scored three of the best tries I have ever seen. John Atkinson, who was trying to mark him, briefly retired after that game.”
Green het in 1985, ná 13 jaar, uitgetree. Hy woon nog in die noorde van Engeland.




