“Ek het alle vertroue in ons regstelsel en byna in God verloor. Ek weet my kind was nie ’n engel nie, maar hy het beslis nie verdien om só wreed vermoor te word nie”.

Met hierdie woorde het Gina Smith, ma van die vermoorde Clint Smith, byna almal in die Wes-Kaapse hooggeregshof in trane gehad tydens haar getuienis in haar seun se moordsaak.

Gerrit Franse, vermeende bendelid, sal nou die res van sy lewe in die tronk moet deurbring ná sy appèl van die hand gewys is. Franse het appèl aangeteken teen die hofuitspraak waar hy skuldig bevind is aan Clint se moord. Sy aansoek is 30 November 2020 in die appèlhof in Bloemfontein aange­hoor, maar sy aansoek is afgekeur.

Die veroordeelde moordenaars Franse, Michael Adams, Aldrick Adams en Chestwell Essop, is Woensdag 12 Junie 2019 elk lewenslange tronkstraf toegedien vir die moord op Clint in 2013.

Die vier is ook elk ses jaar direkte tronkstraf vir ontvoering opgelê terwyl Essop ’n verdere 12 maande gekry het vir rig van ’n vuurwapen.

Essop het nóg ’n bykomende ses maande vir die besit van ’n gevaarlike wapen ontvang. Die hof het gelas dat die vonnisse aaneenlopend uitgedien moet word, wat beteken dat hulle effektief lewenslank in die gevangenis sal wees.

Clint se lyk is 22 Maart 2013 met 247 steekwonde in Saxonworld naby die Push Pub langs die ou Mamre-Darling-pad gevind.

Volgens sy ma Gina voel sy, ná ’n marteling van sewe jaar, of daar geregtigheid vir haar kind se dood is en sy nou vrede kan hê. “Die feit dat sy appèl misluk het, is die kersie op die koek, en nou kan ek weer slaap, eet en lewe,” meen sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article