Die senior DA-raadslid Nora Grose verlaat die hof nadat borgtog van R10 000 aan haar toegestaan is ná aanklagte van bedrog en geldwassery. Foto: David Rossouw


Nog inhegtenisnemings sal glo volg nadat die senior DA-raadslid en Subraad 1-voorsitter Nora Grose haar Donderdag 20 Mei aan die Valke oorgegee het.

Grose is vroeg Donderdagoggend saam met haar regsverteenwoordiger na die Atlantis-polisiekantoor nadat dit aan die lig gekom klagtes van bedrog en geldwassery word deur die spesialiseenheid teen haar ondersoek. Sy is intussen op borgtog van R10 000 vrygelaat. Sy en Reuben Swartz, haar mede-beskuldigde, moes Vrydag in die Bellville-handelshof verskyn het.

Wanbestuur van Covid-19-verligtingsprogram

Die beweringe teen Grose spruit uit die Kaapstadse burgemeester, Dan Plato, se Covid-19-verligtingsprogram wat van stapel gestuur is nadat die pandemie verlede jaar toegeslaan het. Die geld wat verligting aan plaaslike behoeftige inwoners moes bring, is na bewering nie vir dié doel aangewend nie. Weskus Nuus verneem wyksraadslede moes verlede jaar geregistreerde organisasies in hul wyke identifiseer om kospakkies aan te koop en te versprei. Volgens die ooreenkoms met die Stad Kaapstad moes die organisasie ’n verslag oor die projek indien.

Grose, wat die wyksraadslid vir die Melkbosstrand-omgewing is, se voorkeur-organisasie was Life Changers-kerk. Life Changers het egter nie aan die kriteria voldoen nie en die plaaslike organisasie Sarco, wat toe reeds kospakkie aan wyk 32 verskaf het, is deur Grose aangestel het ’n betroubare bron aan Weskus Nuus verduidelik.

Organisasie ‘onbewus van bestuur’

Volgens ’n voormalige bestuurslid van Sarco was hulle onbewus van die ooreenkoms met Grose, en die bohaai het eers aan die lig gekom toe die Valke ’n afsonderlike ondersoek van bedrog met betrekking tot die nasionale Covid-19-Ters-fonds teen Sarco van stapel gestuur het. Volgens die bron het Grose aan Swartz, die Sarco-voorsitter, opdrag gegee om die kos geld na Life Changers, “wat nie aan die Stad se vereistes voldoen het nie”, te betaal.

Die bron het ook aan Weskus Nuus gesê toe Swartz glo met die transaksie sukkel, het Grose glo daarop aangedring om die transaksie self te doen indien die besonderhede aan haar verskaf kan word, wat toe glo wel gebeur het.

Die klagtes teen Swartz hou dus verband met sy organisasie Sarco. Swartz is verlede jaar by sy werk aangekeer.

‘Grose moet bedank’

Emma Powell, die DA se politieke hoof vir Atlantis, het in ’n verklaring gesê misleidende inligting oor Grose is versprei. Geen antwoorde is gegee oor hoe intern teen Grose opgetree sal word nie. Die opposisie in die subraad meen die DA skuld die plaaslike gemeenskap antwoorde oor waarheen die geld verdwyn het.

Fiona Abrahams, ’n ANC-raadslid en woordvoerder van die opposisie in die subraad, sê Grose behoort as voorsitter te bedank.

Abrahams het in ’n verklaring gesê Plato se verligtingsprogram moet dringend bekyk word en die DA moet antwoorde verskaf.

Sy meen die aantygings is skokkend aangesien die geld vir armes bedoel was, en sê die opposisie het gereeld in Subraad 1-vergaderings gevra vir ’n volledige verslag, maar “dit is nou duidelik hoekom die verslag nooit beskikbaar gestel kon word nie”.

Grose is voorgesê om nie met getuies te meng nie en moet op 25 Junie weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article