Leerders van verskillende skole het Vrydag 1 Desember teen geweld teen vroue en kinders opgeruk. Foto’s: Murphy Roberts


“Hou julle vuil hande van ons af!” het leerders van verskillende skole tydens ’n vreedsame betoging vir die 16 Dae van geen geweld teen vroue en kinders-veldtog Vrydag (1 Desember) geëis.

Die optog ter ondersteuning van die veldtog is deur die plaaslike polisiëringsforum en ander organisasies gereël. Janine Passenz, van Survivors Haven, wat slagoffers van geweld en verkragting ondersteun, was een van die gassprekers, en het gesê dit is noodsaaklik dat veral jong meisies baie versigtig op sosiale media moet wees, want in baie gevalle word slagoffers op dié platform geteiken.

Passenz het ook ouers van veral tienermeisies gemaan om hul kinders se sosiale media dop te hou. “Dit is veral belangrik dat jongmense die polisie moet kan vertrou en nie bang wees nie.” Volgens Passenz moet die 16-dae-veldtog nie net ’n funksie wees waar staatsdepartemente kom praat en daarna is hulle skoonveld nie – “dit is iets wat die hele jaar moet duur”.

Christelle Solomons van die organisasie Root 304 for Women, wat ook een van die sprekers was, het aan die gehoor gesê om bloot die probleem te erken, is nie genoeg nie – dit vereis verandering. “Opvoeding is ’n magtige wapen in die stryd; ons moet onsself, ons gemeenskap en toekomstige geslagte opvoed oor wat geslagsgeweld is,” het Solomons gesê. “Slagoffers se stemme moet gehoor word en nie stilgemaak word nie.”

Solomons het gesê slagoffers moet ’n gesonde ondersteuningsbasis hê.

“Verandering begin by ons en saam kan ons ’n toekoms bou waar almal ongeag hul geslag en geloof in ’n vrye samelewing woon,” het sy afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article