Eskom het die afgelope maande gesukkel om kragvoorsiening te waarborg, en dié gespook het gelei tot hoër en konstante fases beurtkrag.
President Cyril Ramaphosa het verlede Donderdag (9 Februarie) tydens sy staatsrede ’n nasionale ramptoestand verklaar om die elektrisiteitskrisis te hanteer. ’n Minister sal nou aangestel word om die kragkrisis te bestuur, terwyl die regering sal verseker dat Eskom genoeg geld vir diesel het om deur die jaar te kom, het Ramaphosa verklaar.
“Om enige verwarring uit die weg te ruim, sal die minister van openbare ondernemings steeds die aandeelhouers van Eskom verteenwoordig en die herstrukturering van Eskom bestuur,” het Ramaphosa gesê.
’n Ramptoestand is sodoende verklaar, wat die staat nou in staat stel om praktiese maatreëls te implementeer om ondernemings, wat deur beurtkrag geraak word, te help.
Ramaphosa het verduidelik uitgawes wat met die ramptoestand verband hou, noukeurig deur die ouditeur-generaal (OG) gemonitor sal word. Dit volg in die lig van ondersoeke wat van stapel gestuur is oor beweringe van korrupsie in en ná die Covid-pandemie en die gepaardgaande ramptoestand.
Volgens Ramaphosa sal die nuwe minister se taak wees om op beurtkrag te fokus en toe te sien dat ’n energie-aksieplan opgestel en so gou as moontlik geïmplementeer word.
Opposisiepartye het intussen hul ongelukkigheid oor die verklaring van ’n ramptoestand uitgespreek.
Die DA-leier, John Steenhuisen, meen die land “was al voorheen hier”.
“Tydens die Covid-19-ramp het ons die noodlottige gebreke in die wetgewing oor die nasionale ramptoestand gesien, wat die ANC onbeperkte mag gegee het om sonder enige parlementêre toesig te plunder,” het Steenhuisen gesê. Hy het dit duidelik gemaak die party het reeds sy regspan opdrag gegee om die aankondiging in die hof te betwis.
Dr. Pieter Groenewald, die leier van die VF Plus, is nog ’n teenstander van Ramaphosa se verklaring. Hy meen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat in beheer van die energie-ramptoestand is, is nie goeie nuus nie. “Die feit dat dit ook weer sonder behoorlike parlementêre toesig bestuur gaan word, beteken dat Suid-Afrika uitgelewer is aan elemente wat nou reeds met gretige oë na die geld en moontlikhede kyk wat met die ramptoestand saamkom,” sê Groenewald.
Intussen sal die R350-toelaag, ’n oorblyfsel van die Covid-19-pandemie, steeds uitbetaal word.



