Honderde kinders het tydens Heart FM se projek van 16 dae vir die jeug lekkernye en ’n warm maaltyd ontvang.


Inwoners het Sondagoggend (5 Junie) wakker geword met lekker sagte musiek van Heart FM op hul voorstoep.

Die bekende omroeper Lunga Singama het tydens Heart FM se 16 dae vir sy jeugprojek hier by die Lombaard-sopkombuis in Ghikastraat, Saxonsea, gestop.

Dit was die radiostasie se vyfde besoek aan ’n gemeenskaps-organisasie tydens die projek, wat oor 16 dae in Junie strek, om ’n verskil in verskillende gemeenskappe te maak.

Allister Lightburn, ’n wyksraadslid, het ook ingespring en gehelp om groente te skil sodat minderbevoorregte kinders ’n warm maaltyd kon geniet. Honderde kinders en jongmense het voordeel uit die besoek ontvang.

Singama en sy mede-omroeper Suga het inwoners vir die dag vermaak terwyl kos gekook en lekkernye uitgedeel is – dit alles terwyl die sopkombuis ’n total makeover van Heart ontvang het.

Volgens Patricia Lombard van die Lombard-sopkombuis het die bekende Mishka Ganief haar sopkombuis as begunstigde vir Heart FM se jeugprojek benoem. “Onwetend het ek so drie weke gelede ’n oproep van Heart ontvang, en die organiseerders het ons kom besoek om te kyk wat die behoeftes by die sopkombuis is,” verduidelik sy, en voeg by skenkings stroom steeds in. Sy het Mishka Ganief en Heart FM hartlik bedank.

Haar dogter, Donna-Lee Lombard, het haar moeder ook geprys vir die feit dat sy altyd na minderbevoorregtes – veral die kinders van Saxonsea – omsien en ook die feit dat haar ma die tradisie en nalatenskap van haar oorlede Ouma Margaret voortsit. Sy beskou haar ma as haar rolmodel.

Die Heart FM-span het ingespring en tannie Magda en haar span het vir honderde jongmense en kinders gekook terwyl die sopkombuis verfraai is.

Vir Lightburn was dit ’n besonderse eer om as ’n vrywilliger in die dag se verrigtinge te deel. Hy meen Atlantis se gemeenskap is ’n veerkragtige gemeenskap en ondanks uitdagings “sal Atlantis altyd opstaan danksy talentvolle mense wat hard werk om ander mense op te hef.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article