Hamlets het Saterdag (11 Mei) na Kraaifontein gereis om Hands & Hearts (H&H) op die Eikendal-sportveld aan te durf.

Nadat Hamlets sy twee vorige wegwedstryde teen Belhar en Van Der Stel-Evergreens naelskraaps verloor het, was dit ’n wedstryd wat hulle moes wen om vir die topses later vanjaar te kwalifiseer.

Met drie van die opwindendste agterlynspelers – Isaac Davids (heelagter), Henry Davids (regtervleuel) en Jamiel Solomons (linkervleuel) was die tafel vir goeie rugby gedek.

Anzo Stubbs van Hamlets het met sy eerste poging pale toe misluk, maar sy opponent Bradwin Pretorius (losskakel) het geen fout gemaak nie en ’n strafdoel oorgeklits (telling 0-3).

Beide spanne het uit die staanspoor hardlooprugby gespeel, wat tot Isaac Davids se eerste van twee drieë gelei het vir ’n voorsprong van 5-3.

Bradwin Pretorius, H&H se losskakel, het egter Hamlets se middelveld oopgevlek toe hy soos ’n warm mes deur botter sny en die vleuel Keaton Nathan oorstuur vir ’n drie in die linkerkantse hoek (telling 10-5).

Die opwindende Isaac Davids het Hamlets se tweede drie ná pragtige hardlooprugby onder die pale gedruk.

Twee strafskoppe deur Robin Davids het die telling tot 21-10 laat klim.

Henry Davids se drie net voor rustyd het H&H verder geruk toe hy agter die doellyn gaan kuier, wat deur ouboeta Robin Davids verdoel is vir ’n voorsprong 28-10.

Ná rustyd het H&H die bordjies verhang en die agterstand tot 28-23 laat krimp. Beide spanne het die skare met voor- en agterspel getrakteer en hier het die vlugvoetige agterspelers van Hamlets gaan druk met Henry Davids wat Hamlet’s se bonuspuntdrie gaan druk het, verdoel deur Robin Davids, om hul voorsprong tot 35-23 te rek.

H&H het egter nooit opgegee nie en met die telling 35-35 en die doelskop uit die hoek het Pretorius Hamlets se wind finaal uitgeblaas.

Peter Davids en sy afrigtingspan sal gewis aandag moet skenk nadat Hamlets die wedstryd weens ongedissiplineerde spel en verbroude kanse verloor het.. Young Hearts het Mamre op die grafkelder in ’n klipharde derby 19-12 geklop terwyl Atlantis Masiphumele 26-17 geklop het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article