Mamre, wat die Bolandse Weskus-streek se 7’s-rugbytoernooi in Saldanha gewen het, het Saterdag tydens die Kampioen van Kampioene-toernooi met gemengde welslae afgesluit.
Die toernooi, wat uit die streekwenners en naaswenners in die Boland bestaan het, het nie baie verrassings opgelewer nie. Mamre was in die sogenaamde “groep van die dood” teen teenstanders soos Saldanha, Roses, Wesbank en Overhex.
Mamre het in sy eerste groepwedstryd teen Roses, ’n voormalige Boland-klubkampioen, voortgebou op sy vertonings van die streekkompetisie en Roses maklik 24-12 geklop. Die wedstryd op die B-veld het gewys die groen truie sou moeilike teenstaanders wees. Mamre se tweede wedstryd teen Overhex op die A-veld was egter teleurstellend en die wedstryd het 7-7 gelyk geëindig.
Mamre het egter verskeie kanse om dié wedstryd te wen, deur sy vingers laat glip omdat ’n oorwinning baie nodig was aangesien Wesbank en Saldanha nog gewag het.
Mamre, wat weer op die B-veld teen Wesbank te staan gekom het, het weer ritme gevind en was gou 7-0 voor.
Wesbank het egter teruggeveg en die voorsprong met ’n onverdoelde drie laat krimp. Mamre het egter kort voor rustyd weer sy voorsprong met sewe punte met ’n onverdoelde drie gerek.
Die groen truie moes die wedstryd met ’n bonuspunt wen om sy kanse lewendig te hou, en die span het weer gewys hoekom hy die Weskus-kampioen is deur ná rustyd twee verdoelde drieë te behaal en sodoende te verseker dat hy tweede eindig met sy wedstryd teen Saldanha wat wag.
Die hoofveld van Bolandpark was die manne glad nie goedgesind nie en Saldanha het die bordjies verhang en soete wraak geneem vir sy nederlaag teen Mamre in die streekeindronde, toe die Weskus-span 17-5 in die laaste groepwedstryd baas was.
Mamre se swak dissipline het die span duur te staan gekom en hy moes in ’n stadium met vyf spelers teen Saldanha speel ná twee geelkaarte kort na mekaar. Mamre is daarna teen Hamlet van Ceres (die toernooiwenners) op die A-veld geloot.
Mamre moes die spook van die A-veld begrawe aangesien die groen truie nie ’n enkele wedstryd op die veld kon wen nie.
Mamre kon dit nie regkry nie en onnodige foute het hom gepootjie. Hamlet het egter dié foute uitgebuit en was teen rustyd reeds met sy een voet in die halfeindstryd met 22-7. Hamlet het in ’n teleurstellende tweede helfte ’n onverdoelde drie behaal.
Hamlet het die wedstryd 27-7 gewen en daarna voortgestoom om die titel te wen.


