Sy is ’n goue meisie.
Jayda Arendse (12), ’n graad 6-leerder by Protea Park Primêr, is Juniemaand se Let’s Play-wenner.
Jayda, wat ’n blougordel in karate het en nou maar eers drie jaar aan dié sport deelneem, het by die Suid- Afrikaanse karatekampioenskap in Durban ’n goue medalje in kata vir meisies tussen 12 en 13 jaar oud verower.
“Die kampioenskap het hierdie jaar in die Junievakansie plaasgevind,” vertel sy. Jayda wat aan die plaaslike klub, Kazoku-karate behoort, sê haar goue medalje het ook haar plek na ’n spanbyeenkoms ’n week later in Bloemfontein verseker waar net die land se bestes deelgeneem het. Sy en haar spanmaats het vierde geëindig. “Ek wil graag eendag my land in die Olimpiese Spele verteenwoordig en wil graag goud dáár verwerf,” sê sy.




