Nora Grose verlaat die hof na ’n vorige verskyning in die Atlantis-hof. Die saak van bedrog en geldwassery teen haar is verlede week van die rol geskraap. Foto: Murphy Roberts


“Dit was ’n vermorsing van almal se tyd.”

Dít was Donderdag 30 Maart die woorde van landdros Sabrina Sonnenberg toe sy die saak van bedrog en geldwassery teen die voormalige subraad 1-voorsitter Nora Grose en Reuben Swartz van die rol geskrap het.

Volgens Emma Powell, die voormalige politieke hoof van die gebied, het die Nasionale Vervolgingsgesag weer eens gefaal om op voorleggings van die verdediging te reageer.

Volgens Powell het die vervolgingsgesag destyds gesê hulle het ’n redelike goeie saak teen die twee beskuldigdes. Die saak, wat reeds meer as 20 keer uitgestel is, is met die twee se vorige verskyning voor Sonnenberg as finale uitstelling uitgestel en die staat kon nie sy saak aan die hof voorlê nie.

Die saak teen Grose en Swartz spruit uit bewerings dat geld uit die destydse burgemeester Dan Plato se Covid-verligtingsfonds onreëlmatig aangewend is. Die staat het beweer ’n geregistreerde organisasie is gebruik om die geld te bekom, maar die geld is op Grose se aanvraag aan die Life Changers-kerk in Tableview betaal. Dié organisasie het nie aan die Stad Kaapstad se vereistes vir diensverskaffing voldoen nie.

Die kerk het wel later ’n deel van die geld aan die Stad terugbetaal.

Swartz, die voorsitter van die plaaslike organisasie Sarco, is betrek omdat die staat aangevoer het geld wat vir die koop en verspreiding van kospakkies moes gaan, is nie vir dié doel gebruik nie.

Die hof het egter bevind daar was nie genoeg meriete vir die aanklagte teen die twee nie.

Volgens Powell, wat met die aanvanklike klagtes die politieke hoof in die gebied was, kon die staat nie een keer konkrete bewyse aan die hof toon dat hul ondersoek wel in ’n gevorderde stadium is nie. Powell sê ook die Stad het telkemale gesê geen geld is misbruik nie en die Stad kon rekenskap van alle geld gee.

Volgens Powell sal Grose nou alle moontlike regsaksies oorweeg teen die mense wat die “misleidende inligting versprei het” en wat tot die aanklagte gelei het.

Weskus Nuus het egter vertroulik verneem die saak teen Grose spruit uit ’n ondersoek na Sarco, Swartz se organisasie.

Die organisasie het na bewering namens “spookwerkers” eise vir geld van die staats-pandemie-verligtingsfond (Tersfonds) ingedien. Die klagtes spruit daaruit dat dié werkers nooit in diens van die organisasie was nie.

Dié saak duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article